On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Uitspraak oor watergebruikregte in landboukringe verwelkom

───   ELSABÉ RICHARD 09:00 Thu, 23 Mar 2023

Uitspraak oor watergebruikregte in landboukringe verwelkom | News Article
FOTO: Mark Stebnicki (https://www.pexels.com/photo/irrigation-canal-near-field-11678439/)

Die uitspraak in 'n jare lange hofstryd oor watergebruikregte in Suid-Afrika, is in landboukringe verwelkom.

Die Grondwethof se uitspraak verlede week, dat watergebruikregte oordraagbaar en verhandelbaar is, volg op die oorwinning van November 2021 deur die aansoekers in die Lötter, Wiid en Suid-Afrikaanse Vereniging vir Watergebruikersverenigings (SAAFWUA)-saak in die hoogste Appèlhof.

Die president van Agri Noord-Kaap, Nicol Jansen, beskryf die uitslag van dié saak teen die Departement van Water en Sanitasie (DWS) as 'n deurslaggewende oorwinning vir waterregtehouers. 

Janse Rabie, Agri SA se Regs- en Beleidshoof, het ook sy stem hierby gevoeg en gesê: “Agri SA se siening oor die noodsaaklikheid om watergebruiksregte ooreenkomstig artikel 25 van die Nasionale Waterwet oor te dra, is nou finaal deur die Grondwethof bekragtig.

“Die vermoë om sulke regte van een persoon na ’n ander en van een eiendom na ’n ander oor te dra, is van kardinale belang met betrekking tot doeltreffendheid in die gebruik van water, die waarde van landbougrond en eiendomsregte in die algemeen. 

"Vir daardie doel bevestig hierdie uitspraak ons standvastige weerstand teen die regering se voortgesette aanranding op eiendomsregte.”

LEES OOK: Waterwet weer gewysig

Volgens Agri SA spruit die hofsaak uit 'n omsendbrief wat in Januarie 2018 uitgereik is waarin die DWS bepaal het dat watergebruiksregte nie oorgedra kan word nie. 

Die organisasie sê die brief het die bepalings van artikel 25 van die Nasionale Waterwet weerspreek, asook die DWS se eie interpretasie van die wet en sy gevestigde praktyke in watergebruiksregte-oordragte, wat dateer uit 1998 toe die Wet in werking getree het.

"Dit is werklikwaar baie goeie nuus vir die boere, vir die besproeiingsboere, dat hulle dan watergebruikregte kan oordra ... Dit is ook 'n groot deurbraak vir Suid-Afrika se vryemark om aan te dui dat die regering nie net 'n eiendomsreg kan begin vervreem nie," sluit Jansen af.

OFM-nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.