Agriculture
Landbounuus-podcast: Afasa loods voerbank, inentingsprogram in Vrystaat─── ELSABÉ RICHARD 14:22 Mon, 03 Apr 2023
Die African Farmers' Association of South Africa (Afasa) loods vandeesweek 'n voerbank en inentingsprogram in die Fezile Dabi-distrik in die Vrystaat.
Afasa sê die program het ontstaan ná vorige droogtes wat vee-eienaars nadelig geraak het, veral dié wat op munisipale grond boer. Die program vind Woensdagoggend om 11uur plaas in die stadsaal op Koppies.
Die Departement van Landbou is slaggereed om sprinkaanuitbrekings te bekamp in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap, noudat sprinkaanbeamptes se kontrakte afgehandel is. Die departement het gereageer op 'n vraag deur die Inkatha Vryheidsparty se Russel Cebekhulu oor die departement se gereedheid om nóg 'n groot sprinkaanuitbreking te voorkom.
Produsente wat hul boerderye wil kommersialiseer, kan aansoek doen om die Landbank en landboudepartement se gemengde finansieringskema. Die Landbank se Sydney Soundy sê dis om landbouprojekte by te staan om volhoubaarheid en groei te bewerkstellig, terwyl voorkeur gegee sal word aan projekte met 'n hoë ontwikkelingsimpak.
Al is Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika, oftewel die BRICS-lande, nie 'n handelsblok nie, bied hulle ekonomiese samewerkingsreëling Suid-Afrika 'n strategiese platform om sy handelsbelange te bevorder. Die Landbousakekamer van Suid-Afrika se Wandile Sihlobo meen die plaaslike landbousektor kan baat vind by dié groepering, hoofsaaklik om uitvoer na China en Indië te bevorder. Die vyftiende BRICS-beraad vind plaas van 22 tot 24 Augustus in Suid-Afrika.
EN
Teen 2025 kan Nieu-Seeland se kweekhuisgasvoetspoor aansienlik verminder word met behulp van ‘n kapsule wat ‘n metaanonderdrukker in die ingewande van lewendehawe vrylaat. Die Rooivleisprodusente-organisasie sê dit is die doelwit van die maatskappy Ruminant BioTech. Die pille is deur die maatskappy ingespan om ‘n eie kapsule te skep wat metaan, wat deur beeste vrygestel word, maande lank met tot 90% verminder.
