On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Amerikaanse veghonde: Landbouminister vergader met stigting oor petisie

───   ELSABÉ RICHARD 06:00 Wed, 12 Apr 2023

Amerikaanse veghonde: Landbouminister vergader met stigting oor petisie | News Article
FOTO: Makarand Sawant/Pexels.

Die Minister van Landbou het met die Sizwe Kupelo-stigting vergader oor 'n petisie wat dit teen Amerikaanse veghonde begin het.

Die petisie is in 2022 begin toe mense, insluitend kinders, hul lewens verloor het ná ’n reeks aanvalle deur dié kragtige honderas. Die oogmerk is om dié honderas as troeteldier in Suid-Afrika te verbied. 

Die stigting het die petisie met byna 140 000 handtekeninge aan Minister Thoko Didiza oorhandig.

Didiza het tydens die vergadering die regering se kommer uitgespreek oor die verlies aan lewens en skade wat met hierdie tipe honderas verband hou.

Sy het gesê daar is werk wat die regering tans doen om die kwessie wat met dié soort dier verband hou, op te los.

LEES OOK: Federasie gekant teen versoeke om Amerikaanse veghonde te verbied

“Onder die werk wat tans aan die gang is, is die omvattende DNS-ontleding van Amerikaanse veghonde en soortgelyke honde om te help met die korrekte identifikasie van probleemdiere eie aan Suid-Afrika."

Die departement sê hy werk ook saam met die Departement van Justisie en
Grondwetlike Ontwikkeling om die Wysigingswet op Diereaangeleenthede van 1993 te wysig om te verseker dat burgers teen enige skade beskerm word, en dat eienaars van sulke diere aanspreeklik gehou word vir enige skade wat deur kraghonde en ander diere veroorsaak word.

ALSO READ: Free State pit bull owner charged

Petisie om die honderas as troeteldier te verban

Die Sizwe Kupelo-stigting sê “ná jare se bose aanvalle op onskuldige burgers, insluitend jong kinders, het die Sizwe Kupelo-stigting 'n beroep gedoen op die onmiddellike verbod op Amerikaanse veghonde.

“Die oproep om [die honderas] in Suid-Afrika te verbied, kom omdat ander lande soos Rusland, Finland, Denemarke, die Verenigde Koninkryk, Portugal, dele van Duitsland, China, Brasilië en dele van Australië, onder ’n magdom ander lande [die honderas] óf verbied het, beperkings op eienaarskap van die ras geplaas het, óf die invoer daarvan verbied het.

“Stigter Sizwe Kupelo het 'n beroep op die Suid-Afrikaase regering gedoen om [dié lande] te volg.”

Pit Bull Federasie van Suid-Afrika se reaksie

Die Pit Bull Federasie van Suid-Afrika se Lehanda Rheeder het met OFM-nuus gedeel dat om dié ras te verban nie noodwendig die uitweg is nie.

“Die rede hoekom ons gekant is daarteen om die ras te verban is dit gaan nie die oplossing wees vir die probleem wat ons het nie. Die probleem is aggressiewe honde wat mense byt en doodbyt.

“So, dit is verkeerde eienaarskap met verkeerde honde,” sê Rheeder.

Sy verduidelik verder dat sou die honderas verbied word, “daai element van verkeerde eienaarskap net na die volgende ras toe beweeg… Dan is al die kragrasse in gevaar.”

Rheeder sê daar moet klem gelê word op die beter hantering en uitvoering van die bestaande wetgewing vir honde-eienaars in Suid-Afrika. “Dis nie net wetgewing wat gaan help nie, dis verantwoordelike eienaarskap en verantwoordelike teling.”

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.