Agriculture
NWK slaggereed vir stroopseisoen─── 18:00 Thu, 27 Apr 2023
Sponsored18:00 Thu, 27 Apr 2023
Die stroopseisoen is in volle swang en NWK se 36 silokomplekse is slaggereed om produsente se graan in te neem vir opberging.
OFM Inhoudsbestuurder, Elzette Boucher-Kruger, gesels met Jaco du Randt, senior bestuurder van Graan by NWK om meer uit te vind.
Die oppervlak waarop sojabone aangeplant is, het verdubbel sedert die vorige seisoen en dit word weerspieël in die huidige lewering wat NWK ervaar. Dié van sojabone en sonneblom het reeds begin en sal na raming tot diep in Mei strek.
Voorts word daar verwag dat die lewering van mielies ook volgende maand ‘n aanvangs sal neem en vroeg in Junie sy piek sal bereik.
NWK het verlede jaar sowat 1 500km se grondpaaie laat skraap en het reeds in Maart vanjaar met die tweede fase van sy grondpadprojek afgeskop waarvolgens paaie onderweg na sy onderskeie silokomplekse, geskraap word.
Nie net maak dit paaie vir boere wat hul graan na silo’s moet vervoer meer begaanbaar nie, maar ook vir skoolgaande kinders en arbeiders wat in hierdie afgeleë gebiede bly. Daar is reeds 614km se grondpaaie in die omgewing van Delareyville, Kameel, Excelsior, Baberspan, Sannieshof, Kleinharts, Nooitgedacht, Lusthof, Oppaslaagte, Zoetmelksvallei, Gerdau en Boschpoort geskraap, waarna paaie in die Ottosdal-, Coligny- en Grootpan-gebiede aandag sal geniet.
Van die paaie se toestand is só haglik, dat dit basies herbou moet word.
‘n Ander uitdaging wat NWK én produsente hierdie stroopseisoen moet trotseer, is voortslepende beurtkrag. Dit plaas NWK se inname-kapasiteit onder geweldige druk en kragopwekkers is gevolglik gedurig op bystand.
“Ons het ook baie aandag gegee aan die versnelling van die innameproses en -sisteme sodat ons meer graan in ‘n korter tyd kan inneem. Ongelukkig kan dit alleen nie die uitdagings ten volle aanspreek nie en is daar ook beplan vir verlengde werksure om aan die vraag te kan voldoen,” het Jaco du Rand, senior bestuurder van Graan by NWK, verduidelik.
Van NWK se silo’s word ook tans met sonkragoplossings toegerus om die druk te help verlig.
Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy verwag dat die oes op hande weer groot in volume sal wees en dat die kwaliteit van graan beter as dié van die vorige seisoen sal wees. Die uitlaai van graan is tans 'n sterk fokuspunt sodat oordragvoorraad nie onnodig spasie in beslag neem nie.
NWK het meer as 300 000 ton se bykomende stoorkapasiteit geskep by silo’s waar daar ‘n bottelnek verwag word en indien nodig, sal graan aangery word na silo’s waar onbenutte kapasiteit beskikbaar is.
Produsente wat meer wil weet oor NWK se inname-reëlings en tariewe by die onderskeie silo’s, kan www.nwk.co.za besoek vir meer inligting asook kontakbesonderde van Silodienste, Graanbemarking en Logistics by NWK.
