On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Goeie somergraan-, oliesaad-oes op die kaarte vir Suid-Afrika

───   ELSABÉ RICHARD 08:55 Mon, 08 May 2023

Goeie somergraan-, oliesaad-oes op die kaarte vir Suid-Afrika | News Article
FOTO: Mike/Pexels.

Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se onlangse data het landbouers se optimisme oor Suid-Afrika se 2022/23-somergraan- en oliesadeproduksieseisoen bevestig.

Dit toon dat mielieproduksie op 15,9 miljoen ton geraam word, wat effens hoër (3%) as verlede maand se skatting is, en hoër as die 2021/22-seisoen se oes. Die huidige oes is die derde grootste oes op rekord.

Die Landbousakekamer van Suid-Afrika (Agbiz) se Wandile Sihlobo sê in sy weeklikse markverslag die oesverbetering is hoofsaaklik te danke aan verwagte groot opbrengste, aangesien die oppervlakte aangeplant effens minder is as die 2021/22-seisoen.

Sowat 8,4 miljoen ton is witmielies, met 7,5 miljoen ton geelmielies.

“ 'n Oes van 15,9 miljoen ton impliseer dat Suid-Afrika genoegsame voorraad sal hê om in binnelandse behoeftes van ongeveer 11,4 miljoen ton te voorsien met sowat 3 miljoen ton wat sal oorbly vir uitvoermarkte in die 2023/24-bemarkingsjaar wat in Mei begin.

“Boonop is die sojabone-oes met 2% verhoog vanaf die Maart skatting tot 'n rekord 2,8 miljoen ton. Die oesverbetering is te danke aan 'n uitbreiding in die oppervlakte aangeplant en die verwagte hoër opbrengste.”

Sihlobo deel dat die verwagte groot oes beteken Suid-Afrika kan in sy binnelandse vraag voorsien met net meer as 300 000 ton sojabone vir uitvoermarkte. Volgens hom is hierdie uitbreiding van sojaboonuitvoer 'n nuwe gebied vir Suid-Afrika, wat tot onlangs 'n netto invoerder van sojabone en sojaboonprodukte was, en positief vir die landbouhandelsbalans.

“Die sonneblomsaadproduksieskatting het onveranderd gebly vanaf verlede maand op 797 610 ton (6% laer op 'n jaargrondslag).

“Die jaarlikse afname in die sonneblomsaadproduksievoorspelling weerspieël die verminderde aangeplante oppervlakte en opbrengste in sommige gebiede.

“Ander klein gewasse, soos sorghum en grondbone, het 'n redelike groot verwagte oes van onderskeidelik 107 180 ton (op 4% j/j) en 49 080 ton (op met 1% j/j),” sê Sihlobo.

OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.