Agriculture
Digitale evolusie beloof omwenteling in boerdery─── BAMBATHA GIKO 09:02 Wed, 10 May 2023
Die toekoms van landbou is aan die verander vanweë tegnologiese vooruitgang, wat beloof om boerdery doeltreffend, kostebesparend en volhoubaar te maak.
Robotte, hommeltuie, satelliete, die internet van dinge (IoT), blokketting en kunsmatige intelligensie ontwikkel teen ’n kommerwekkende tempo.
Theo de Jager, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Agri-inisiatief (Saai), sê die integrasie van tegnologie is van kardinale belang vir boere wat mededingend wil bly in ’n toenemend uitdagende mark.
Dit sal kleinboere help om hul produktiwiteit te verhoog en hul insette te verminder. Dit sal beteken dié boere kan meer voedsel op kleiner stukke grond verbou, wat meer winsgewend sal wees.
“Dit is die werklikheid van landbou,” sê hy. “Ek dink boere moet aanvaar as jy nie die tegnologie aangeryp en benut nie, sal dit jou mededingendheid benadeel.”
Hy sê verbruikers stel deesdae meer belang in hoe hul voedsel geproduseer word, asook wat die produkte se invloed op die omgewing en hul gesondheid is.
Verbruikers wil ’n verskil maak deur hul koopkrag en soek inligting oor produkte se oorsprong, meen De Jager. Hulle kry dit wanneer ’n QR-kode ingelees word deur byvoorbeeld blockchain-tegnologie, wat aan die planter of jou kunsmisstrooier gekoppel is sodat die masjiene met mekaar kan “praat.
’n Mens sal nie die stelsel kan flous nie; jy kan nie teruggaan en dit wysig as iets skeefgeloop het nie. “Dit is wat die verbruiker wil hê,” sê hy.
Met blokkettingtegnologie en die IoT kan boere verbruikers behoorlik inlig oor die oorsprong van hul voedsel, insette wat gebruik word en die invloed van die produksie op die omgewing.
Hy sê dit is “ongelooflik belangrik” dat klein- en mediumskaalse boere ook toegang tot dié tegnologie het en weet hoe om dit te gebruik.
