Agriculture
‘Boere moet hul mark goed ken voordat hulle plant’─── 10:00 Mon, 15 May 2023

Baie boere is bekommerd oor die onlangse reën wat in die land, veral in die Oos-Vrystaat, geval het. Die gebied het die afgelope naweek baie reën gekry en die temperature het begin daal.
Hulle is bang dat die huidige weerstoestande hul oeste en vee nadelik kan raak.
OFM Nuus het met een van die boere, Dawie Muller, gepraat wat sê: "Eerlikwaar gee hierdie seisoen my slapelose nagte. Ek het verwag om tonne mielies te oes, maar die huidige reënval blyk uitdagend te wees."
Muller sê hy is ook senuagtig oor die voggehalte van die grond omdat die bone amper gereed is om geoes te word.
“Hulle gaan waarde verloor as ons nie in die landerye kan gaan weens die baie water nie,” sê Muller.
Nog ’n boer Moeketsi Mkhwanazi sê die winterreën kan sy koring vernietig. "Dit is ’n groot uitdaging, want om die probleem op te los moet jy baie geld hê. Ek boer nog nie lank nie en het nie geld om sulke uitdagings die hoof te bied nie," sê hy.
Die koördineerder van landbou in die Thabo Mofutsanyana Distriksmunisipaliteit, Lebohang Moshoaliba, glo egter dat reën nodig is vir die gewasse en vee, maar dit kan gevaarlik wees as dit te veel reën.
Moshoaliba sê die boere wat verwag om koring, hawer en ander groente gedurende die winterseisoen te oes, kan baie uitdagings ondervind weens die voggehalte in die grond. Hy sê ander gewasse kan probleme ondervind omdat die temperature in die streek skerp begin daal het.
"Die meeste van die gewasse kan vrek weens die insekte en ander peste wat toeneem as die grond te nat is,” sê hy.
Die probleem is dat geld nodig is vir plaag- en insekdoders en baie boere kan dit nie bekostig nie. Boere kan egter nie net sit en kyk hoe hul landerye vernietig word nie en moet self iets doen.
Moshoaliba sê die boere moet verseker dat hulle hul mark goed ken. Daarom moet hulle gewasse plant wat winsgewend is. Hulle moet ook let op die temperatuur wanneer hulle gewasse plant.