On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Pulane
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

Agriculture

Agri Securitas ontvang R100 000 deur OFM #BakkieArm-veldtog

───   BAMBATHA GIKO 14:06 Thu, 18 May 2023

Agri Securitas ontvang R100 000 deur OFM #BakkieArm-veldtog | News Article

Agri Securitas het Woensdag R100 000 ontvang deur OFM se BakkieArm-fondsinsameling.

Die oorhandiging is by OFM se buite-uitsaaieenheid by Nampo Park tydens GraanSA se Nampo Oesdag gedoen. 

Agri Securitas Trust is gestig ná die landelike veiligheidsberaad wat op 10 Oktober 1998 gehou is. Agri SA se uitvoerende hoof, Christo van der Rheede, sê die organisasie spruit uit ’n gesprek tussen die gewese Agri SA-leier en President Nelson Mandela. Van der Rheede is ook een van die trustees,


“Dit het gegaan oor die veiligheid van die landbougemeenskap en hy’t [Mandela] gesê ‘mense moet nie sit en kla by my nie, begin iets’, en onder sy leiding en deur middel van inspirasie het Agri Securitas se bestaan gekom. Dit staan onder beheer van AgriSA maar funksioneer onafhanklik as ’n trust.”


Die Trust funksioneer deur 'n groep trustees wie se primêre verantwoordelikheid fondsinsameling is, die geld word deur AgriSA geadministreer en word dan aan boere-unies toegeken op grond van hul sakeplanne.

“Boere-unies kry nie die geld net so verniet nie, hulle met ook ’n bydrae lewer. So daar is of ’n 50/50 bydrae van albei kante af of 60/40 en dan word die geld aangewend en ek moet werklikwaar sê ons boere-unies doen baie moeite om hierdie sisteem effektief te bestuur om misdaad te bekamp en onder beheer te kry,” sê Van der Rheede.

Hy het aan OFM-nuus gesê die geld sal ook deel vorm van 'n groter poel fondse wat aangewend sal word om kameras te bekom en moniteringsterreine te vestig. Dit bestaan uit 'n toegewyde span wat beeldmateriaal deur die dag monitor en misdadige aktiwiteite stiptelik rapporteer. Hy sê dit maak voorsiening vir vinnige inwerkingstelling van risikoversagtingsplanne en bemagtig boerderygemeenskappe om proaktiewe maatreëls te tref.

Met die jeugwerkloosheidkoers wat met 1,1% tot 62,1% gestyg het, sê Van der Rheede dit moet dringend ondersoek word omdat die misdaadsyfer bly styg. Hy sê die polarisasie tussen gemeenskappe in landelike gebiede, die verdeling tussen rasse en tussen arm en ryk is iets wat moet beëindig word.

“As ons dit nie gaan doen nie gaan baie meer mense uitgesluit voel en mense wat uitgesluit voel het niks om te verloor nie, en sulke mense wend hulle soms tot misdaad en daardie misdaad het ’n baie negatiewe en destruktiewe impak op die landbousektor.”  

OFM het die #BakkieArm-veldtog begin om geld vir Agri Securitas in te samel. Dié organisasie is gekies omdat Sentraal Suid-Afrika die hartland van landbou in Suid-Afrika verteenwoordig.

Die veldtog het net ná Nampo in 2022 begin toe OFM se ontbytprogram - Die Goeiemôre Ontbyt, tydens hul 'woord van die week'-insetsel, die term 'bakkie-arm' bespreek het. Dié nuutsskepping verwys na die sonbrandpatroon wat 'n bestuurder van 'n voertuig kry as gevolg van blootstelling aan die son. Met luisteraars se insette het die span toe besluit dit is nodig om 'n kledingstuk te skep om teen sonbrand te beskerm. Hulle het dit toe die #BakkieArm gedoop.


Central Media Group se uitvoerende hoof, Nick Efstathiou, sê OFM is al meer as 30 jaar 'n mediavennoot by Nampo-oesdag, "dis 'n baie belangrike deel van ons DNS as OFM-agri in Sentraal Suid-Afrika".

“Dit is iets wat ons elke dag leef en asemhaal.  die besigheid van Agri is baie belangrik vir die besigheid van OFM, die vennootskappe wat ons het, die kliënte wat ons het, almal word deur die Agri-sektor geraak, so dit is nogal belangrik vir ons om te belê,” sê Efstathiou.

OFM Nuus/Bambatha Giko

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.