Agriculture
Landbounuus-podcast: Boodskappe van medelye stroom in ná dood oud-Springbok-haker se pa─── ELSABÉ RICHARD 14:24 Wed, 31 May 2023

Boodskappe van medelye stroom op sosiale media in ná die dood van André van Biljon, die pa van oud-Springbok-haker, Lukas.
André is Dinsdag oorlede nadat hy drie keer in die bors geskiet is toe hy en Lukas Vrydag deur 'n groep gewapende verdagtes aangeval is by hul kleinhoewe net buite Oranjeville in die Vrystaat. André was kritiek in die hospitaal vir ‘n paar dae waar hy vir sy lewe geveg het. Intussen sal twee verdagtes in verband met die misdaad weer Maandag in die Heilbron-landdroshof verskyn om vir borgtog aansoek te doen.
Misdaadstatistieke vir die eerste drie maande van 2023 wat Dinsdag deur die Suid-Arikaanse Polisiediens vrygestel is, verwys net na die direkte syfers van misdaad. TLU SA-hoofbestuurder Bennie van Zyl sê dit wys egter nie die verreikende impak wat dit op die ekonomie het nie.
Vrystaat Landbou doen 'n beroep op die rooivleisbedryf asook die regering om die uitvoermark te open sodat meer vleis uitgevoer kan word, en produsente daardeur kan baat deur die swak wisselkoers. Die organisasie sê verder biosekuriteit en naspeurbaarheid moet opgeknap word om die mark oop te hou en hoë vertroue in Suid-Afrikaanse vleis te skep. Vrystaat Landbou het onlangs uitgespreek teen die invloed van beurtkrag op plaaslike vleispryse en dat dit die lewensvatbaarheid van boerderye bedreig.
Daar's in elke droogtegeteisterde-streek van die land boere wat die afgelope jaar of twee hul hekke moes sluit. Die stigter van die droogtehulp-organisasie ‘Save the Sheep’, Sybil Visagie, sê dit hou vêrrykende gevolge in, nie net op die boer en sy gesin nie, maar ook vir die plaaswerkers én die gemeenskap.
EN
Die Chianina-beesras is vinnig besig om Suid-Afrikaanse boere se harte te wen. Die telersgenootskap se Frans Swanepoel sê dié bees, wat tot op die skof tot sowat 1,8 meter hoog kan groei en tot 1,5 ton kan weeg, het 'n goeie temperament en uitstekende moederlike instinkte.