On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Agriculture

Somerreënval kan moontlik swakker wees

───   12:53 Thu, 15 Jun 2023

Somerreënval kan moontlik swakker wees | News Article
FOTO: OFM Nuus

’n Droër somerseisoen is moontlik binnelanders se voorland en soos gewoonlik sal dit ’n impak op ons landbouprodusente hê.

OFM Nuus het met die onafhanklike landbouweerkundige Johan van den Berg gesels om uit te vind hoe die weerverskynsel ontstaan en moontlik kan lyk.

Hy sê die huidige El Niño ontwikkel abnormaal vroeg want dit is reeds op die grens op pad.

“Gewoonlik sien ons die verskynsel eers vanaf Augustus en September,” sê hy.

El Niño gaan reeds teen Desember ’n piek bereik

Voorspellings dui daarop dat dit reeds teen Desember ’n piek gaan bereik en weer gaan begin verswak vanaf Januarie aanstaande jaar.

“Daar is egter aanduidings dat dit wel sterk kan ontwikkel, soortgelyk aan die toestande van 2015-16.”

Oor wat ’n mens kan verwag in dié toestande, sê hy eerstens kan dit verantwoordelik wees vir gemiddelde tot bogemiddelde reënval in die laatwinter tot vroeë somer.

“Kouefronte neig om redelik hoog teen die weskus op te beweeg met redelike lae temperature maar ook die kans vir reën te verhoog.

Hy sê die probleem begin ontstaan vanaf November en Desember wanneer baie droeë en warm toestande begin voorkom.

“Dit is veral in die midsomer vanaf Desember tot einde Januarie asook weer rondom Maart en April waar baie ongunstige toestande voorkom.”

Februarie kry dán ’n bietjie meer reën

Voorts sê hy in sommige El Niño-seisoene kry die periode rondom Februarie ’n bietjie meer reën.

“Periodes tussen reënbuie is dikwels langer, die doeltreffenheid van reënval swakker omdat dit dikwels kleiner reënbuie is en ook ’n groter verdampingskomponent het met baie warm toestande.”

Van den Berg sê daar moet onthou word dat die gemiddelde afwyking in jaarlikse reënval ongeveer 10% tot 20% is in die oostelike produksiegebiede soos die Oos-Vrystaat, KwaZulu-Natal en Mpumalanga.

Dus is dit minder reën maar ook ’n swakker verspreiding

“Dit kan tot soveel as 40% ondergemiddeld wees weswaarts, of rofweg wes van die N1. Dus is dit minder reën maar ook ’n swakker verspreiding oor tyd die grootste redes vir swakker toestande.”

 Daar is ook baie meer strepe en kolle reën en sekere produsente of plase kan steeds goeie reën kry op die regte tyd.

Hy sê ook dit is nie noodwendig dat veldbrande erger gaan wees nie aangesien daar dikwels reën voorkom in die “brandseisoen” vanaf Augustus.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.