Agriculture
Voorgestelde regulasies vir waterlisensies ‘slegs vir nuwe aansoeke’─── ELSABÉ RICHARD 08:07 Tue, 20 Jun 2023
Die bepalings oor swart Suid-Afrikaanse aandeelhouding sal beperk word tot nuwe waterlisensie-aansoeke.
Dit is volgens die Departement van Water en Sanitasie (DWS) tydens 'n onlangse vergadering met Agri SA oor die voorgestelde regulasies rakende waterlisensies.
Dit vereis tot 75% swart Suid-Afrikaanse aandeelhouding.
Die departement het die voorgestelde waterlisensie regulasies op 19 Mei 2023 gepubliseer en dit is onderhewig aan 'n publieke deelname- en insaeproses tot 18 Julie 2023.
"Die DWS het sy voorneme duidelik gemaak dat die bepalings rakende swart Suid-Afrikaanse aandeelhouding met betrekking tot lisensie-aansoeke beperk sal word tot nuwe aansoeke en nie sal uitbrei na bestaande watergebruiksregte nie – 'n kritieke onderskeid vir die voortgesette lewensvatbaarheid van Suid-Afrika se kommersiële landbousektor, wat die grondslag vir Suid-Afrika se voedselsekerheid is.
"Agri SA sal sy reaksie in die lig van die verduideliking oorweeg en sal voor 18 Julie 2023 sy kommentaar oor die konsepregulasies aan die departement finaliseer," sê Janse Rabie, Agri SA seRegs- en Beleidsbestuurder.
Intussen verduidelik DWS op sy Facebook-blad dat 98,5% van beskikbare waterbronne in Suid-Afrika reeds toegeken is. Dit sê die transformasie vereiste kategorieë is slegs van toepassing op watergebruiklisensie-aansoeke vir die oorblywende 1,5%.
Dit het ook uitgelig dat dit bereid sal wees om voorstelle vir wysigings aan die konsepregulasies te oorweeg om hierdie kwessie op te klaar en het Agri-SA aangemoedig om skriftelike voorleggings in hierdie verband te doen.
"Die Departement sal ander belanghebbendes in die besproeiings- en bosbousektore, soos NAFU-SA, AFASA, Bosbou SA, ontmoet as deel van die belanghebbende-betrokkenheidsproses wat met die konsepregulasies verband hou."
DWS moedig die publiek aan om voort te gaan om voorleggings rakende die konsepregulasies te maak.
