Agriculture
Wat is nuut in Farmer's Weekly?─── ELSABÉ RICHARD 08:25 Fri, 07 Jul 2023
Vroeë skattings deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou toon dat skade weens swaar reën in middel Junie R1 miljard beloop.
Dit wil voorkom asof meeste van die skade in die Kaapse Wynlande, Matzikama en die Weskus plaasgevind het. Veral sitrus-, aartappel- en graanboere het skade gely.
Gert van der Merwe, ondervoorsitter van die Sitruskwekersvereniging in die Wes-Kaap, skat Citrusdal-boere het sowat twee weke van pluktyd verloor weens die swaar reën. Hy sê skade aan infrastruktuur het hulle verhinder om produkte na markte te vervoer én dat die Kaapstadse hawe 'n week agter skedule is.
ALSO READ: Gift of the Givers provides assistance to Northern Cape flood victims
Van der Merwe sê goeie weer het sedertdien boere toegelaat om die pluk van vrugte in te haal.
Farmer's Weekly fokus ook vandeesweek op die slag en smokkel van leeus in gevangenskap in Suid-Afrika om in die vraag na leeubene te voorsien.
Volgens dr. Gerhard Verdoorn van CropLife SA, sê dié praktyk het die Afrika-leeu tot 'n slagdier afgegradeer.
Hy sê verskaffers wat leeubene onwettig bekom het en die smokkelaars moet die volle mag van die gereg ervaar. Dit volg op die onlangse inhegtenisneming van 'n 43-jarige man by die OR Tambo Internasionale Lughawe wat probeer het om vanaf Suid-Afrika na Viëtnam via Katar te reis terwyl hy die bene van vyf leeukarkasse in sy besit gehad het.
Verder sal Agri SA vanaf Oktober 2023 'n nuwe leier aan die stuur hê. Johann Kotzé is onlangs as die organisasie se nuwe hoof uitvoerende beampte aangestel.
Hy neem oor by Christo van der Rheede wat 'n paar maande gelede sy uittrede aangekondig het.
