Agriculture
Landbounuus: Verdagtes met byna halfmiljoen se vermoedelik gesteelde mieliesade betrap─── ELSABÉ RICHARD 14:51 Fri, 14 Jul 2023
Drie mans is in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde mieliesade van meer as R400 000.
Vrystaatse polisie sê hulle het Donderdag 'n wenk ontvang oor 'n bakkie wat die mieliesade vanaf Pretoria vervoer. Die bakkie is toe by die Vaal Tol Plaza afgetrek en deursoek. 59 sakke De Kalp-mieliesaad is op beslag gelê. Verdere ondersoeke het onthul dat die saad by die De Kalp-fabriek in Johannesburg gesteel is. Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.

Die Noord-Kaapse Departement van Paaie en Openbare Werke werk hard daaraan om paaie te herstel ná oorstromings in die Namakwa-streek. Woordvoerder, Zandisile Luphahla, sê die departement is onder druk om die ekonomie van die distrik weer aan die gang te kry met die blomme-seisoen in Namakwa wat op hande is en vele toeriste wat te wagte is in dié deel van die Noord-Kaap.
Intussen is sowat drie weke se sonskyn nou nodig in gebiede in die Wes-Kaap wat deur water deurdrenk is ná oorstromings. Dit sal hulle help om te herstel. Farmer's Weekly se Janine Ryan sê graanboere in die algemeen het nie erge oesverliese gely nie, weens die swaar reën wat in Junie in die provinsie neergesak het.
Indien Suid-Afrika uit sy African Growth and Opportunity Act-handelsooreenkoms met Amerika verwyder word, sal die sitrusbedryf daaronder ly. Kragtens dié ooreenkoms, ook bekend as AGOA, kan onder meer Suid-Afrika produkte tariefvry uitvoer na die VSA. Die SA Sitruskwekersvereniging sê byna R2 miljard se uitvoer-inkomste sal bedreig word. As gevolg van fito-sanitêre beperkings, word slegs sitrus van die Wes- en Noord-Kaap na die VSA verskeep. Hierdie twee provinsies handhaaf na raming 35 000 werksgeleenthede op plaasvlak.
EN
Die meerderheid wenners van Messay Ferguson se kompetisie waar wenners 'n reis na Frankryk kan wen, is geleë in die Vrystaat. Messay Ferguson-produk-bemarkings-bestuurder in Afrika, Ryan Clark, sê hulle het vanaf November die 'Win a Trip to France'-kompetisie gehou, waar deelnemers 'n kans kon staan om dubbelkaartjies te wen. Wenners gaan onder meer een van Messay Ferguson se grootste en gevorderde trekker-fabrieke ter wêreld te besoek.
