Agriculture
Landbounuus: Toestand van Sandrivierbrug is kommerwekkend─── ELSABÉ RICHARD 15:06 Mon, 04 Sep 2023
Die toestand van die brug tussen Paul Roux en Kaallaagte is kommerwekkend.
Die DA in die Vrystaat het onlangs op 'n toesigbesoek aan die Sandrivierbrug bevind dit het tot 'n kommerwekkende mate agteruitgegaan. DA Thabo Mofutsanyana-distriksraadslid, Marius Marais, sê die brug speel 'n belangrike rol in plaaslike boere se vermoë om hul goedere te vervoer.

Foto verskaf
Die Landbousakekamer van Suid-Afrika sê hy verwag 'n herstel in die landbousektor se bruto toegevoegde waarde ná 'n skerp inkrimping van 12,3% kwartaal-op-kwartaal. Statistieke Suid-Afrika sal na verwagting Dinsdag lig werp op die huidige ekonomiese situasie in Suid-Afrika wanneer die jongste BBP-syfers bekendgemaak word. Die Sakekamer sê die vorige inkrimping was deels weens oormatige reën wat veldgewasse-aanplantings met meer as 'n maand vertraag het in sommige gebiede.
Die Koninkryk van Saoedi-Arabië is een van die lande wat in Januarie 2024 sal aansluit by die Brics-groepering. SA Landbousakemer se Wandile Sihlobo beskryf dit as 'n groot geleentheid om die geografiese bestemmings van Suid-Afrika se landbou-uitvoer te diversifiseer. Ander lande wat ook by Brics gaan aansluit, sluit in Egipte, Iran en die Verenigde Arabiese Emirate.
Die Landbounavorsingsraad het 'n bek-en-klouseer-entstof bekendgestel in samewerking met die Departement van Landbou. Dié siekte, wat gesplete hoefdiere raak, het onlangs ekonomiese verliese vir beesboere tot gevolg gehad toe dit in meeste van die land se provinsies aangemeld is, insluitend Noordwes en die Vrystaat. Die navorsingsraad sê die bek-en-klouseer-entstof word voorberei van plaaslik geïsoleerde virusstamme van die siekte. Die bekendstelling van die entstof kom ná meer as 16 jaar se invoer vanuit ander lande.
EN
Die teenwoordigheid van groot hoeveelhede brandbare materiaal weens goeie reënval die afgelope drie jaar, dra by tot die ontwikkeling van hoë-intensiteit brande dié brandseisoen. Die Vrystaatse Sambreelbrandbeskermingsvereniging se Johan Breytenbach sê groot skade is oor die naweek in Smithfield, Steynsrus, Clarens, Senekal en Ventersburg aangerig weens veldbrande.
