Agriculture
Landbounuus: Minister van landbou verwelkom jongste BBP-syfers─── ELSABÉ RICHARD 14:01 Fri, 08 Sep 2023

Die Minister van Landbou verwelkom die jongste BBP-syfers wat Statistieke SA vrygestel het vir die tweede kwartaal van 2023.
Die syfers toon dat die landbousektor weereens bygedra het tot die land se ekonomie. Die sektor het met 4,2% gegroei, wat toegeskryf kan word aan onder meer 'n goeie graanoes.
Senwes het ná die onlangse vernietigende brande in Noordwes, Vrystaat en Noord-Kaap, bekend gemaak dat hy 'n half-miljoen-rand aan Agri SA se Ramphulpstigting skenk om verligting vir diegene in nood te bring. Die landboumaatskappy sê die brande gaan 'n langdurige impak hê op talle - afhanklik van weiding en ander hulpbronne wat deur die brande vernietig is.
Intussen sê die Noordwes-sambreelbrandbeskermingsvereniging se Olebogeng Thebedi waardevolle hout en ander natuurlike hulpbronne gaan ook verlore tydens veldbrande. Dié provinsie se geraamde ekonomiese skade weens brande is byna R3 miljard. Thebedi moedig gemeenskappe aan om saam te span om voorsorgmaatreëls, soos veldbrande, in plek te kry vóór die brandseisoen.
Die Noordwes Landbou LUR is in Chili vir die 48ste Internasionale Bye-kongres, waar sy die provinsie se byeboere verteenwoordig. Desbo Mohono het die sukses, geleenthede en uitdagings gedeel wat Noordwes-byeboere in die gesig staar.
Die uitbreiding van die gebied onder beplanting met hoëwaarde-uitvoervrugte en -neute sal na verwagting 'n 30%-toename in uitvoervolumes oor die volgende dekade meebring. Die bedryf se volhoubaarheid hang egter in die weegskaal aangesien uitvoergeleenthede deur risiko's in die gesig gestaar word. Statistieke deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleidstellings vir landbouvooruitsigte vir 2023 tot 2032, wys op aansienlike prysdruk in baie markte, wat 'n dringende ondersoek vereis na marktoegang en die opgradering van hawe-infrastruktuur.
Aalwurmbevolkings in Suid-Afrika blyk besig te wees om toe te neem in voorkoms en spesietipe. Boere word dus gemaan om ten volle geïntegreerde plaagbestuurstrategieë te implementeer om ’n totale oesverlies te voorkom. Farmer's Weekly se Janine Ryan sê die impak van aalwurms word dikwels oor die hoof gesien en hou 'n veel groter probleem in as wat baie boere dalk besef.
EN
Die DA Vrystaatse premierskandidaat, Roy Jankielsohn, het 'n toesigbesoek gedoen aan die Vis-navorsingsfasiliteit by Gariepdam. Die fasiliteit word bestuur deur 'n groep navorsers van die Vrystaatse Departement van Landbou met ondersteuning van die nasionale departement. Jankielsohn sê navorsing bly 'n belangrike instrument vir die ontwikkeling van verdere landboukommoditeite, insluitend akwakultuur.