On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Agriculture

Wat die regering se energiefonds behels

───   ELSABÉ RICHARD 09:00 Tue, 19 Sep 2023

Wat die regering se energiefonds behels | News Article
Foto: Mark Stebnicki/Pexels

Die belangrikheid van alternatiewe elektrisiteitsverskaffing om voldoende vesel- en voedselproduksie te verseker, is deesdae die onderwerp van bespreking in landboukringe.

Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB, het op Agri Noord-Kaap se jaarkongres gesê die regering se Agro-energiefonds (AEF) het die potensiaal om die impak wat beurtkrag op boerderybedrywighede het te verlig.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het op 29 Augustus die fonds bekendgemaak wat in samewerking met die Landbank moontlik gemaak word. Dit, nadat sy in Mei in haar departement se begrotingsrede die voorneme bekend gemaak het om finansiële hulp beskikbaar te maak vir boere om alternatiewe energiebronne te bekom.

Die AEF verskaf finansieringsondersteuning vir die verkryging van alternatiewe energiebates om die impak van beurtkrag op boerderybedrywighede en die landbousektor te verlig. 

Die Landbank sê die fonds sal fokus op die finansiering van energie-intensiewe landbouaktiwiteite wat besproeiing, intensiewe landbouproduksiestelsels en kouekettingverwante aktiwiteite op die plaas insluit.

Geteikende kommoditeite wat hoë energieverbruik op plaasvlak het:

  • melkboerdery;
  • pluimvee- en varkvleisprodusente;
  • alle besproeiingskommoditeite; en
  • verwerking op die plaas.

Diegene wat nie kwalifiseer nie, sluit in:

  • buitelandse burgers, dubbele burgerskap en onwettige immigrante;
  • staatswerknemers en werknemers van staatsbeheerde entiteite;
  • politici in openbare ampte; en
  • nie-landbou besighede.

Die AEF is deur Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, bekendgestel.

Landbou-organisasies verwelkom die fonds

Agri SA is een van die landbou-organisasies wat die AEF verwelkom het. Dit sê dié fonds is een van die ingrypings wat spruit uit ’n taakspan wat deur Didiza gestig is om die impak van die energiekrisis op die sektor te versag. 

Die taakspan het bestaan uit Agri SA, die Landboubesigheidskamer van Suid-Afrika, die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid en amptenare van die landboudepartement.

“Gegewe die kostedruk wat boere ondervind, veral as gevolg van beurtkrag, sal die fonds noodsaaklike ondersteuning bied aan die boere, wat Suid-Afrika se voedselsekerheid beskerm. Dit sal ’n kombinasie van toelae-befondsing en lenings vir boere verskaf om die toerusting en infrastruktuur te bekom wat nodig is vir energie-intensiewe boerdery. 

"Kleinskaalse boere sal toegang hê tot toekenningsbefondsing tot R500 000; mediumskaalse boere tot R1 miljoen; en grootskaalse boere tot R1,5 miljoen.

"Hierdie noodsaaklike befondsing is noodsaaklik om die finansiële lewensvatbaarheid van die sektor te help handhaaf en sodoende ook die lewensbestaan wat die sektor onderhou, te beskerm. 

"Hoewel die finansiering nie die omvang van die uitdagings wat Suid-Afrika se boere ondervind of die omvang van die impak van die energiekrisis op hul ondernemings sal aanspreek nie, is dit 'n sterk aanduiding van die departement se verbintenis tot die beskerming van die land se voedselsekerheid," sê Agri SA.

Landbank-kontakbesonderhede in Sentraal-Suid-Afrika

Besoek Landbank se webtuiste om aansoek te doen vir die AEF.

OFM Nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.