Agriculture
Kyk hiervoor: veranderende plaagdoderetikette─── ELSABÉ RICHARD 08:25 Mon, 18 Sep 2023
Gewasbeskermingsprodukte speel 'n integrale rol in die produksie van gewasse. Hierdie produkte bevat etikette waaraan die boer en sy werkers moet voldoen.
CropLife Suid-Afrika (CropLife SA) maan produsente dat produketikette verander en dat dit vir die afsienbare toekoms gaan aanhou verander.
Elriza Theron, kommunikasiebestuurder by CropLife SA, sê die rede hiervoor is as gevolg van die wêreldwye geharmoniseerde stelsel van klassifikasie en etikettering van chemikalieë (GHS), wat chemiese middels in verskeie industrieë affekteer.
"Die behoefte aan GHS het ontstaan as gevolg van die wêreldwye handel in chemikalieë, wat dikwels grense oorsteek na gebiede met verskillende tale en verskillende vlakke van geletterdheid, en sodoende uitdagings skep wanneer veilige en verantwoordelike gebruiksinstruksies van die produkte gekommunikeer word.
"In Suid-Afrika het GHS vanaf September 2022 'n wetlike vereiste geword en word dit gestipuleer in die Regulasies vir Gevaarlike Chemiese Middels Nr. R280 van 29 Maart 2021.
"Sedertdien moet die etikette en veiligheidsdatablaaie van gewasbeskermingsprodukte 'n gestandaardiseerde benadering volg om die gevare van die chemikalieë te kommunikeer," verduidelik Theron.

GHS-gevaargroepe en piktogramme/CropLife SA.
Die gebruik van ongeregistreerde plaagdoders
Saam met die waarskuwing en belangrikheid om aan etikette te voldoen, sê CropLife SA verbruikers moet ongeregistreerde plaagdoders vermy.
Melanie Israel, landbouwetgewing-inspekteur by die Departement van Landbou, waarsku dat boere en die publiek weg moet bly van plaagdoders wat straatsmouse verkoop, want dit is dikwels nie geregistreer nie.
Israel sê dié produkte versuim gewoonlik om klante oor die gevare van die produk in te lig.
Dié waarskuwing volg nadat ’n gesin van vyf in 2021 gesterf het as gevolg van die aankoop van plaagdoders sonder dat hulle ingelig is oor die gevare daarvan.
Daar is verskillende soorte plaagdoders wat gebruik word om onder meer van insekte in huishoudings en ongewenste onkruid in tuine of landerye ontslae te raak.
Gevare volgens GHS
Die aard van 'n gevaar word volgens ’n gevaarklas toegewys, waarvan daar tans 29 is – hiervan is 17 fisiese gevaarklasse soos oksiderende vloeistowwe, tien is gesondheidsgevaarklasse soos velkorrosie/-irritasie, en twee is omgewingsgevaarklasse, naamlik gevaarlik vir die akwatiese omgewing of gevaarlik vir die osoonlaag," sê Theron.
"Hierdie klasse behoort aan 'n gevaargroep of tipe, uitgebeeld deur 'n piktogram (soos bo aangedui) wat vir verskeie verskillende gevare gebruik kan word.
"Binne hierdie klasse word die erns van die gevaar dan toegedeel in terme van 'n gevaarkategorie uitgedruk as 'n getal, byvoorbeeld kategorie 1 sou die ernstigste wees. Sommige van hierdie kategorieë word verder onderverdeel in afdelings, wat as 'n letter uitgedruk word, soos A, B, C, ensovoorts."
Theron deel dat een van die grootste veranderinge op die etikette die feit is dat daar nie meer 'n kleurband sal wees wat die toksisiteit van die produk illustreer nie.
"Dit kan vir sommige kommerwekkend wees, maar ’n mens moet daarop let dat die gevaar van die produk met die GHS-klassifikasie bepaal word deur akute en chroniese toksisiteit te gebruik, terwyl die kleurbande slegs as akute toksisiteit beskou word, wat beteken dat die nuwe klassifikasies meer omvattend is."
