Agriculture
Bielie van ’n Santabul by Nampo Alfa te sien─── 05:00 Mon, 09 Oct 2023
“Die interraskampioenskap is goeie kompetisie want dit gee erkenning aan beide die teler en die ras.”
Die Kochbo Santas-stoetery buite Moorreesburg se bielie van ’n Santa Getrudis-bul, Coleman, gaan diep spore by die Nampo Alfa-interraskampioenskap kom trap. Coleman is een van die deelnemers aan die prestige-kampioenskap, waarna slegs agt van Suid-Afrika se top-vleisbeestelers genooi is.
“Die Nampo Alfa-interraskampioenskap is vir ons goeie kompetisie omdat dit erkenning en goeie blootstelling gee, nie net aan die teler nie, maar ook aan die verskillende rasse wat deelneem,” sê Franco Koch van die Kochbo Santas-stoetery.

Coleman is onlangs aan Jan Botma van die Sombrero Santa Gertrudis-stoetery verkoop. Hier is hy by sy vorige eienaars, die Kochs van Moorreesburg. Foto: Carla Nieuwoudt
Die stoetery is in 1992 deur Koch se pa begin en spog met 60 teelkoeie. Die Santa Gertrudis-ras, oorspronklik van Texas in Amerika, het sowat 50 jaar gelede na Suid-Afrika uitgebrei.
Coleman, wat as die interras- junior opperste manlike kampioen op die Moorreesburgskou aangewys is, is in September aan Jan Botma van die Sombrero Santa Getrudis-stoetery in Bothaville verkoop vir ’n bulprys van R170 000.
“Ons het van sy saad teruggehou vir toekomstige teeldoeleindes. Hy is ’n bul met ’n trotse houding, baie goed gebalanseerd en met goeie spierdefinisie. Sy ma is ook een van ons beste teelkoeie in die kudde.”

Die Santa Gertrudis-bul Coleman. Foto verskaf
Die Nampo Alfa-lewendehawe-jag-en-buitelewe-ekspo vind van 12 tot 14 Oktober in Nampopark buite Bothaville plaas. Die hoogtepunt is die internasionale interraskampioenskap, wat vir die eerste keer sedert 2019 weer ten volle aangebied word.
Kwalifiserende koei- en bulkampioene van 13 van die grootste landbouskoue in Suid-Afrika neem deel. Dit is verteenwoordigend van agt van die beste vleisbeestelers in die land.
Wenners van die volgende skoue is uitgenooi: Hertzogville, Bloemskou, Vryburg, Nampo, Royal-skou, Thabazimbi, Ellisras, Ermelo, Noord-Gauteng, George, Moorreesburg, Parys en Standerton.
