Agriculture
Landbounuus: Oos-Vrystaatse boere verheug oor reën─── ELSABÉ RICHARD 14:07 Thu, 19 Oct 2023
Boere in die Oos-Vrystaat meen onlangse neerslae kan 'n teken wees van 'n seisoensverandering.
Hulle hoop opvolgreën sal binnekort volg.
Nagenoeg 5 800 veldbrande is sedert Mei in die Vrystaat aangemeld, oor byna 540 000 hektaar landbougrond. Boere word gedwing om hul kuddes tot ‘n kernteelkudde af te skaal, en wanneer hul veld herstel het, bou hulle hul kuddes weer op. Vrystaat Landbou sê finansieel is dit ’n massiewe terugslag vir omtrent drie jaar. Geen hoeveelheid voer wat gekoop en vervoer word, kan die natuurlike weiding se plek inneem nie.
Die polisie in die Noord-Kaap neem kennis van kommer oor veediefstal. Om veediefstal te bekamp, het polisiebeamptes optredes onderneem soos plaaspatrollies, padblokkades, voldoeningsinspeksies op plase en besoeke aan veilings. Dorper stoet-teler van die Kenhart-distrik, Charl Saunderson, sê meer moet gedoen word om veediefstal te bekamp.
Die Noordwes-regering word daarvan beskuldig dat hy vroueboere in die steek laat. ‘n Politieke party meen suksesvolle vroue in landbou het byna sonder uitsondering presteer danksy hul eie dryfkrag of met bystand van die private sektor. Noordwes VF Plus LP, Fanie du Toit, sê regeringsprojekte wat wel plaasgevind het, was deurlopend tot mislukking gedoem weens korrupsie, wanbestuur en gebrek aan behoorlike ondersteuning.
Ná 'n paar goeie jare is veegetalle hoog. Duurder hoenderpryse en moontlike uitvoer is die lewendehawebedryf se grootste hoop. Chris Derksen, wat weekliks die veilingspryse vir lewendehawe verskaf, bring ons op die hoogte van die lewendehawepryse per kilogram.
