Agriculture
Wetgewing oor die vervoer van plaaswerkers─── ELSABÉ RICHARD 12:23 Mon, 23 Oct 2023

“Geen persoon mag op ’n openbare pad enige persoon teen beloning in die goederekompartement van ’n voertuig vervoer nie.”
Een van die wysigings wat onlangs goedgekeur is, is die vervoer van werkers na en van hulle werkplek.
Stephan Pietersen van Work Accident Support het met OFM hieroor gepraat.
Wat is die wetgewing in Suid-Afrika oor die vervoer van werkers?
As ons eerstens kyk na die Nasionale Verkeerswet se regulasie 250, word dit duidelik gemaak dat werkers nie mag betaal vir die vervoer nie.
Dit lees as volg:
"Geen persoon mag op 'n openbare pad enige persoon teen beloning in die goederekompartement van 'n voertuig vervoer nie."
Ek het al opgelet dat daar ongelukkig gevalle is waar werkers wel betaal vir die vervoer, wat teenstrydig is met die Verkeerswet en dit het ook 'n effek as daar 'n werkbesering sou plaasvind.
Watter ander wetgewing maak verdere melding van die vervoer van werkers?
Kragtens die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid moet die werkgewer sorg vir 'n veilige werkplek, maar werkers het ook 'n verantwoordelikheid vir hul veiligheid.
Werkers moet:
- altyd sittend wees wanneer hulle vervoer word,
- wag tot die voertuig tot stilstand kom voordat hulle op- of afklim van 'n voertuig, en
- nie met toerusting soos lere vervoer word nie.
Trekkerbestuurders moet formele opleiding ontvang en bestuurders wat werkers op 'n plaas vervoer, moet oor ’n bestuurslisensie beskik.
'n Paar dae gelede het ek gesien hoe twee werkers met lere agter op 'n bakkie vervoer word. Dit is natuurlik teenstrydig met wetgewing en boetes kan uitgereik word vir dié tipe oortredings.
Jy het onlangs 'n boerdery gehelp met 'n paar werkbeserings waar werkers betrokke was in 'n motorongeluk nadat hulle terug vervoer is na hul gemeenskap. Wat sê die Wet op Beroepsbeserings en -siektes oor die vervoer van werkers?
Die belangrikste om te onthou is dat werkers GRATIS vervoer moet word andersins kan hulle hul voordele verloor kragtens die wetgewing.
Die vervoer moet ook spesifiek vir hierdie doel gebruik word en die produsent moet 'n mate van beheer oor die voertuig kan uitoefen, soos om gereeld in kontak te wees met die bestuurder.
Wat is die stappe wat 'n produsent moet volg sodra 'n ongeluk plaasgevind het?
Dit moet natuurlik aangemeld word by die naaste polisiekantoor en die nodige vorms moet voltooi word om die ongeluk aan te meld by die Vergoedingsfonds. Dit moet binne sewe dae gedoen word.
Waar werkers ernstig beseer is of gesterf het, moet daardie insidente ook by die provinsiale inspekteur van die Departement van Indiensneming en Arbeid aangemeld word.
Wat sê die nuwe wysigingswet in verband met die vervoer van werkers?
Waar werkers vervoer word vir die doeleindes om hulle werk te verrig, word hulle geag as aan diens kragtens die Wet op Beroepsbeserings en -siektes sodra hulle op die voertuig klim.
Dit beteken indien hulle in 'n motorongeluk sou betrokke wees hulle gedek sal word en die nodige voordele benut. Maar waar die wet nou wel verander, is dat sodra werkers die plek bereik waar hulle op- en afgelaai word, hulle nou geag is aan diens te wees en nie meer vandat hulle op die voertuig geklim het nie.
Net om te bevestig, hoewel die wetgewing goedgekeur is, moet daar nog op 'n datum besluit word wanneer dit in werking gestel moet word.