Agriculture
Landbounuus: Hemorragiese haassiekte is ’n nasionale krisis─── ELSABÉ RICHARD 14:03 Tue, 24 Oct 2023
Eienaars word versoek om streng bioveiligheidsmaatreëls toe te pas om die verspreiding van hemorragiese haassiekte te help keer.
Hemorragiese haassiekte het ontaard in 'n nasionale krisis. Dit veroorsaak vrektes onder mak en wilde hase en konyne. Die Gautengse konyntelersvereniging sê hy het kontak gemaak met staatsveeartsenydienste om te help met 'n ondersoek oor die oorsaak van die uitbreking. Die vereniging het berig ontvang van vrektes in Meyerton en Vereeniging. Eienaars word versoek om streng bioveiligheidsmaatreëls toe te pas om die verspreiding daarvan te help keer.
Gevalle waar verdagtes betrap word met geslagte diere op plase én in hul huise neem toe. Die polisie in die Noord-Kaap het onlangs, op een dag, vier verdagtes in hegtenis geneem in twee afsonderlike gevalle vir die besit van vermoedlik gesteelde eiendom. Twee verdagtes is by Philipstown aangekeer toe die polisie 'n geslagte skaap in hul yskas vind en hulle nie 'n redelike verduideliking kon verskaf nie. In Victoria-Wes is twee verdagtes betrap terwyl hulle besig was om 'n bok in die veld te slag. Dié twee kon ook nie verklaar aan wie die karkas behoort nie.
'n Boer van die Dealesville-distrik wat sy lewe in 'n veldbrand verloor het, sal onthou word as 'n goeie man en pa. Basie van der Watt is Saterdag dood toe vlamme hom oorval het terwyl hy besig was om 'n brand te help bestry. Sy vrou, Corli, beskryf hom as eerlik en betroubaar.
Vier mense is in veldbrande in die 2023-brandseisoen dood – dit sluit Van der Watt in. Die Vrystaatse Sambreelbrandbeskermingsvereniging sê vier ander mense het ook lewensgevaarlike beserings opgedoen terwyl ses ernstige beserings opgedoen het.
EN
Boere word aangeraai om dié somer op hul hoede te wees in afwagting van droër en warmer weerstoestande weens die El Niño-verskynsel. Die landboudepartement stel voor dat droogtebestande kultivars geprioritiseer moet word in gebiede wat konstante droë toestande ervaar.
