On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus: Kwik styg tot bo 40 °C in Sentraal-Suid-Afrika

───   ELSABÉ RICHARD 13:53 Tue, 28 Nov 2023

Landbounuus: Kwik styg tot bo 40 °C in Sentraal-Suid-Afrika | News Article
Foto: Pixabay via Pexels.

Onafhanklike landbouweerkundige Johan van den Berg sê in dele van die Noord-Kaap is dit meer as 45 °C.

  • Die heersende rekordhoë temperature in die land word veroorsaak deur 'n hoogdrukstelsel vanaf die Atlantiese Oseaan. Dit demp die moontlikheid vir die ontwikkeling van reën en verhoed dat meer tropiese vog suidwaarts beweeg. Onafhanklike landbouweerkundige Johan van den Berg sê dit is in dele van die Noord-Kaap meer as 45 °C.
  • Openbare kommentaar oor voorgestelde wysigings aan die Nasionale Waterwet en Waterdienstewet moet ingedien word teen 17 Januarie. Die wysigings, veral aan die Nasionale Waterwet, kan aansienlike gevolge inhou vir die landbousektor, veral as dit aanvaar word soos voorgestel. Agri SA se hoof- uitvoerende direkteur, Johann Kotzé, sê dis 'n belangrike wet oor waterregte en kan ruimskoots daartoe bydra dat die land se waterbronne volhoubaar en regverdig gebruik word.
  • Voedselinflasie en die styging in energiekoste speel 'n groot rol in die versnelling in die inflasiekoers. Dit laat vrese ontstaan dat rentekoerse kan styg. Landbou-ekonoom Frikkie Maré sê egter dis onwaarskynlik op medium termyn – verligting kan selfs vroeg aanstaande jaar verwag word.
  • Verbruikers moet hulle reg maak vir 'n styging in hoenderpryse dié feestyd en in die nuwe jaar. Dis die gevolg van die kumulatiewe effek van hoendertekorte wat veroorsaak word deur voëlgriep. Die Vereniging van Vleis In- en Uitvoerders sê die prysstygings is onafwendbaar tensy die regering ingryp. Hoender bly die mees bekostigbare en noodsaaklike vleis-proteïen vir verbruikers, veral diegene wat sukkel om in hul gesine se basiese voedselsekerheidsbehoeftes te voorsien.
  • Australië se skaapbedryf is in ‘n krisis met pryse wat amper die laagste in 16 jaar is. Dit het boere in die weste van dié land gedwing om hul diere gratis aan troeteldiervoervervaardigers te gee. Skaapvleispryse het oor die afgelope jaar met 75% geval. Die Rooivleisprodusenteorganisasie sê skaapvleispryse het ook in Australië gedaal, met ouer diere wat ‘n gemiddeld van slegs A$34 in Oktober behaal het, terwyl daar berigte was van diere wat vir minder as A$1 per kop verkoop is.

OFM Nuus/Elsabé Richard-May  Daphné


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.