Agriculture
Senwes Groep wys staal met halfjaar resultate─── ELZETTE BOUCHER 05:00 Fri, 08 Dec 2023
Die finansiële uitkomste volg op 'n behoorlik deurdagte strategie wat volhoubaar uitgevoer word.
Die Senwes Groep se interim finansiële resultate vir die ses maande geëindig 31 Oktober 2023, toon ‘n omset van R7 902 miljoen. Die wins na belasting toeskryfbaar aan aandeelhouers van die maatskappy beloop R525 miljoen, en genormaliseerde wesensverdienste van 301,6 sent per aandeel is opgelewer.
Die finansiële uitkomste volg op ‘n behoorlik deurdagte strategie wat volhoubaar uitgevoer word. Die mitigasie van risiko, soos die onlangse verkryging van ‘n vierde John Deere-agentskap in Oos-Duitsland, is onder andere ‘n voorbeeld hiervan.
OFM Inhoudsbestuurder, Elzette Boucher-Krüger gesels met Francois Strydom, Hoof Uitvoerende Beampte van die Senwes Groep.
“Enige produsent sal vir jou sê dat daar nie een enkele landboujaar is wat met ‘n vorige een ooreenstem nie. Met die dreigende El Niño sal produsente natuurlik hulle balansstate meer konserwatief bestuur, maar ons kan uit die aankope van saad, kunsmis, kalk en grondmonsters sien dat produsente steeds beplan om te plant,” meen Strydom.
Die koop van die vierde John Deere-agentskap in Oos-Duitsland (Porst) is gedurende die eerste ses maande gefinaliseer. Carl Klingenberg, Hoof Finansiële Beampte van die Senwes Groep, lig uit dat die agentskappe in Duitsland nog, soos verwag, in ‘n groeifase en realisering van sinergieë is. “Uit ‘n kontantvloei oogpunt sorg die besighede egter tans vir hulleself en het Senwes nog nie nodig gehad het om enige addisionele beleggings te doen nie, wat baie positief is.”
Die resultate vergelyk as volg met die vorige ooreenstemmende periode:
- Omset styg met 18,1% – Hoër graanlewerings, verkope van landboumasjinerie en resultate van nuwe besighede het hiertoe bygedra.
- Netto batewaarde styg met 9,3% – Wins na belasting van R525 miljoen het tot 'n verhoging van netto batewaarde van R2,17 per aandeel gelei.
- Wins na belasting verdeelbaar aan aandeelhouers styg met 33,9% – Die verhoging is onder andere toeskryfbaar aan die verhoogde winsgewendheid van die marktoegangsegment weens die verhoging in graanontvangstes.
- Genormaliseerde verdienste per aandeel styg met 20,9%. Die verskil van hierdie syfer teenoor dié van Wins na belasting verdeelbaar aan aandeelhouers kom in weens eenmalige transaksies wat nie elke jaar plaasvind nie.
- Finansiële dienste styg met 22,5%. Produsente se beter kontantvloei het daartoe gelei dat 94 000 hektaar minder gefinansier is. Insetkostes en rentekoerse was egter hoër wat die impak hiervan teengewerk het.
- Insetverskaffing daal met 8,7% – Alhoewel marktoestande goed was en John Deere landbou, konstruksie en bosbou heelwerktuie se verkope hoër was, het verkope teen laer marges gerealiseer. JDI, die besigheid in die Suid-Kaap, het 'n positiewe groei getoon terwyl S&L Connect, die Duitse besigheid, nadelig deur hoër inflasie en rentekoerse beïnvloed is. Hinterland het ook swakker gevaar weens verbruikers wat meer konserwatief koop.
- Marktoegang styg met 59,2% – Hoër graanvoorraad weens groter volume lewerings het tot hoër hanterings- en bergingsinkomste gelei.
‘n Interim dividend met ‘n styging vanaf 36 sent per aandeel na 50 sent per aandeel is aangekondig.
