Agriculture
Voedselkrisis ‘van ongekende afmetings’ dreig in Afrika─── 08:50 Fri, 08 Dec 2023

Die inleiding van die verslag noem die onlangse skattings toon dat byna 282 miljoen mense in Afrika (sowat 20% van die bevolking) in 2022 ondervoed was.
Afrika beleef 'n voedselkrisis van ongekende afmetings. Abebe Haile-Gabriel, assistent-direkteur-generaal en streekverteenwoordiger vir die Afrika Voedsel-en-Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies, het die Afrika Streeksoorsig van Voedselsekerheid en Voeding 2023 op die 28ste sitting van die Afrika-kommissie vir landboustatistieke in Boksburg aan die Oos-Rand bekend gestel.
“Miljoene sal na verwagting in die nabye toekoms die gevaar loop om erge honger te ervaar weens die gevolge van die oorlog in Oekraïne, die verwoestende invloed van konflikte, klimaatsveranderlikheid en uiterstes, ekonomiese verlangsamings en afswaaie, en die nagevolge van die Covid-19-pandemie.”
Die inleiding van die verslag noem die onlangse skattings toon dat byna 282 miljoen mense in Afrika (sowat 20% van die bevolking) in 2022 ondervoed was, 'n toename van 57 miljoen mense sedert die pandemie begin het. Sowat 868 miljoen mense was matig of erg voedselonseker en meer as een derde van hulle – 342 miljoen mense – was erg voedselonseker.
“Ten spyte van pogings wat in verskeie lande aangewend is, is Afrika nie op koers om die voedselsekerheid- en voedingsteikens van die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit 2 oor Zero Honger vir 2030 te bereik nie, en beslis ook nie die Malabo-teikens om honger en alle vorme van wanvoeding teen 2025 te beëindig nie.”
Volgens die verslag ly miljoene Afrikane ook aan wydverspreide mikrovoedingstoftekorte. Oorgewig en vetsug is reeds groot kommer oor openbare gesondheid in baie lande. Boonop toon skattings dat in 2021 die meerderheid van Afrika se bevolking (sowat 78%) nie 'n gesonde dieet kon bekostig nie, vergeleke met 42% op wêreldvlak.
“Ons hoop dat die bevindinge die momentum vir die transformasie vir landbouvoedselstelsel saam met ander stelsels soos onderwys, gesondheid en energie sal veroorsaak, vir beter produksie, beter voeding, 'n beter omgewing en 'n beter lewe vir almal, en om te verseker dat niemand agterbly nie,” sê Abebe.
OFM Agri dg