Agriculture
Gee my (wind)krag!─── ELZETTE BOUCHER 05:00 Wed, 13 Dec 2023

Met Suid-Afrika se kragkrisis wat nie binnekort blyk opgelos te word nie, bied hernubare energiebronne ‘n uitkoms aan gebruikers, asook ‘n geleentheid vir beleggers.
Eugene Marais van Red Cap Energy vertel dat daar ook vir landbouers in die Vrystaat geleenthede bestaan as dit kom by die oprigting van windplase.
OFM se inhoudsbestuurder, Elzette Boucher-Krüger, het met hom gepraat.
Marais sê son- en windkrag bied aantreklike opsies, maar wind is ietwat goedkoper gegewe die uitset omdat sonkrag net vir ‘n aantal ure per dag opgewek kan word terwyl die wind vir langer tydperke mag waai.
“Landbougrond en windplase kan saamwerk. Dis nie ‘n beskermde area of 'n natuurreservaat waar baie dinge die proses kan stop nie. Landbougrond is gewoonlik goed gepas omdat die windplaas 'n byvoeging tot die landbouaktiwiteite word.”
Geskikte liggings word gewoonlik vasgestel deur satellietdata te ontleed en dan verder ‘n studie te doen. Die kapasiteit van die kragnetwerk moet ook in berekening gebring word. Daar is reeds projekte wat vasgeval het omdat die kragnetwerk in sekere provinsies bloot nie meer die lading van opwekking kan dra nie.
“Daar is reeds nie meer genoeg kapasiteit op die kragnetwerk in die Wes-, Noord-, en Oos-Kaap nie. Ontwikkelaars kyk nou na Mpumalanga, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Noordwes.”
Marais lê egter klem daarop dat so ‘n windplaas ‘n langtermynontwikkeling is. “Jy kyk na 'n 30 jaar proses. Jy wil werk saam met 'n maatskappy wat jy kan vertrou wat verstaan wat die uitdagings in die platteland is. Byvoorbeeld sekuriteit. Wanneer ons begin met 'n projek sal ons addisionele kamerastelsels vir die landelike gemeenskap ook installeer.”
OFM Agri dg