Agriculture
Toestande moet verbeter om landbouvertroue te herstel─── 12:58 Tue, 12 Dec 2023
Landboumaatskappye gaan waarskynlik in die toekoms versigtiger omgaan met finansiering.
Dit is volgens prof. Frikkie Maré van die Universiteit van die Vrystaat in reaksie op die Landbousakekamer (Agbiz) en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie se Agri-besigheidsvertroue-indeks wat Maandag (11/12) vrygestel is.
Dié indeks het in die vierde kwartaal met 10 punte tot 40 verswak, onder die neutrale 50-punt-kerf wat impliseer dat Suid-Afrikaanse landboubesighede moedeloos is oor saketoestande in die land. Uitdagings soos infrastruktuur, verslegtende dienslewering, verhoogde politieke onsekerheid en aanhoudende beurtkrag is as oorsake uitgewys.
“Hierdie indeks is basies ’n opsomming van besluitnemers van landbou-ondernemings se sienings wat oor tien faktore gemeet word om vertroue in die landbousakesektor te bepaal.”
Die indeks is ook nou op die laagste punt sedert die tweede kwartaal van 2020 toe die inperkings van die Covid-pandemie nog op hul sterkste was.
Maré meen daar is verskillende faktore wat bygedra het tot die lae sake vertrouensindeks, “Goed soos bedryfswins en omset wat redelik gedaal het, met landboumaatskappye wat vrees dat die voorspelde El-Niño, moontlik produksie gaan knou.”
Ook indiensneming het met 12 punte gedaal en kapitaalbeleggings het ’n redelike skerp afname getoon wat daarop dui dat die besteding aan landboutoerusting en masjienerie ook afgeneem het.
“Uitvoervolumes het ook gedaal en ons sit met groot probleme by die hawens, ons kry net nie ons produkte uit nie.”
Maré sê verder wek finansieringskostes ook kommer. “Ons is steeds op redelike hoë rentekoerse en ons weet nie wanneer hierdie siklus gaan daal nie. Landbou het baie hoë skuldvlakke op hierdie stadium wat saam met moontlike laer produksie, dit moeilik gaan maak om te diens.”
“Die totale omvang hiervan beduie maar net dat ons in terme van vertroue in die landboubedryf op ’n redelike slegte punt is en dat toestande redelik gaan moet verbeter voordat daar groot beleggings in landbou gemaak gaan word,” sluit Maré af.
OFM Agri CG
