On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbou-uitvoer steeds bemoedigend, ontwikkelig nodig

───   05:00 Mon, 18 Dec 2023

Landbou-uitvoer steeds bemoedigend, ontwikkelig nodig  | News Article

Terwyl Suid-Afrika se landbou-uitvoer bemoedigend bly, is die verwagting dat uitvoerverdienste waarskynlik vanjaar sal versag vanaf die 2022-rekorduitvoer van $12,8 miljard.

Landbousakekamer, Agbiz, se hoofekonoom, Wandile Sihlobo, sê hoewel Suid-Afrika op korttermyn goed presteer het in terme van landbouhandel, moet die fokus egter vorentoe verskuif na markontwikkeling en instandhouding van bestaande markte.

Hier moet die Suid-Afrikaanse regering behoorlik politieke leierskap in die buitelandse beleidsruimte oorweeg.


In ’n toenemend verdeelde wêreld waar geopolitiek broos is, moet Suid-Afrika ’n versigtige pad stap sodat sy buitelandse beleidsbenadering nie ’n negatiewe benadering tot handel of groeiende proteksionisme deur tradisionele handelsvennote tot gevolg het nie.

Dit beteken dat daar ’n behoefte is om hard te werk om die bestaande markte in die Europese Unie, Afrika, Asië, die Midde-Ooste en die Amerikas te behou.

Suid-Afrika behoort veral marktoegang na sommige van die sleutel Brics-lande, soos China, Indië en Saoedi-Arabië, uit te brei. Ander strategiese uitvoermarkte vir Suid-Afrika se landbousektor sluit in Suid-Korea, Japan, Viëtnam, Taiwan, Mexiko, die Filippyne en Bangladesj.

Suid-Afrika se landbou-uitvoer het in die derde kwartaal van vanjaar $3,9 miljard beloop, met 4% op jaargrondslag (volgens data van Trade Map). Hierdie kwartaal was die produkte wat die uitvoerlys oorheers het, sitrus, mielies, appels en pere, neute, wyn, sojabone, suiker en vrugtesap.

In die geheel het Suid-Afrika se landbou-uitvoer $10,2 miljard in die eerste nege maande van die jaar beloop, 1% meer as dieselfde tydperk in 2022.
Hierdie uitvoeraktiwiteit was hoofsaaklik voor die verskerpte uitdagings by die Suid-Afrikaanse hawens.

Afrika steeds grootste uitvoermark

Vanuit ’n streeksperspektief het Afrika die grootste mark vir Suid-Afrika se landbou-uitvoer gebly, wat verantwoordelik was vir 32% van die uitvoer in die derde kwartaal van 2023. Asië en die Midde-Ooste was die tweede grootste streke, met 'n aandeel van 31%

Die Europese Unie was die derde grootste streek, wat verantwoordelik was vir 19% van die landbou-uitvoer, met die Amerikas-streek op 7%. Brittanje is ook een van die grootste enkele markte vir Suid-Afrika se landbou-uitvoer, wat verantwoordelik was vir 6% van die uitvoer in die derde kwartaal. Die oorblywende 5% is na ander verskillende streke van die wêreld versprei.

Landbou-invoer ook minder

Wat invoer betref, het Suid-Afrika se landbou-invoer in die derde kwartaal van vanjaar met 7% op ’n jaargrondslag gedaal tot $1,8 miljard (Dit is volgens data van Trade Map). Soos met die vorige kwartale is die produkte wat steeds die invoerlys oorheers, koring, rys, palmolie, whisky, sonneblomolie en pluimvee. Koring en palmolie was die vernaamste drywers van die afname in die waarde van invoer.

Suid-Afrika se landbou-invoer het vir die eerste nege maande van die jaar $5,3 miljard beloop, 7% laer as dieselfde tydperk in 2022.

Dus het Suid-Afrika ’n landbouhandelsoorskot van $2,1 miljard in die derde kwartaal van 2023 gehad, 15% hoër op ’n jaargrondslag.

Hierdie artikel het oorspronklik verksyn op Agricultural Economics Today.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.