Agriculture
Vrou van Kalahari se passie gee weerlose spesies tweede kans─── 05:00 Mon, 18 Dec 2023
Die Kalahari Wildlife Project spesialiseer in die redding en rehabilitasie van beseerde Kalahari-spesies, insluitend ietermagôs, meerkatte, aardwolwe, roofvoëls en meer.
Die Noord-Kaap is ’n gebied van uiterste temperature en afstande. Dinge kom nie maklik nie. Die mens se merk op die natuur word ook al meer beduidend soos wat ontwikkelings plaasvind. Een vrou beywer haar egter om van die weerlooste spesies, dié eg aan die Kalahari te red voor dit te laat is.
OFM Nuus se Dane Beisheim gesels met Machel van Niekerk, die eienaar van die Kalahari Wildlife Project.
Van Niekerk verduidelik baie van die wildspesies in hul sorg was betrokke in ongelukke soos padbotsings of ander mens-wild konflikte. “Ons behandel en laat ook bedreigde spesies vry wat deur die Valke, die polisie se eenheid vir veediefstal bedreigde spesies, natuurbewaring en die publiek uit die onwettige handel in wild gehaal is.”
Sy vertel dat hulle ook binnekort ’n kliniek wil open.

’n Ietermagô word gemerk voor sy vrylating. Foto: Kalahari Wildlife Project
Van Niekerk het in die Kalahari-omgewing grootgeword en ná haar studie as ’n veeartsenyverpleegkundige teruggekeer en op ’n plaas gewoon. “Terwyl ek studeer het, het ek by die Pretoria Dieretuin gewerk. Dit het my waardevolle insig gegee in die sorg en rehabilitasie wat nodig is om my passie vir bewaring en rehabilitasie voort te sit.”
In 2018 het sy ’n wildrehabilitasiekursus voltooi. Die daaropvolgende jaar begin sy met ietermagôs by die Johannesburgse Natuurlewe-hospitaal werk, woon werkswinkels by en leer die nodige protokolle.
“Omdat ek ’n boer is en woonagtig is in die gebied waar die grootste populasie ietermagôs voorkom, het ek ’n gevestigde belang om my bes te doen vir die natuurlewe, asook ’n insig vanuit die boer se perspektief.”
‘Ons kry baie uile in wat raakgery is’
Van Niekerk vra padgebruikers om veral gedurende die vakansie daarop te let om nie die spoedgrens te oorskry nie omdat baie van die diere wat hulle behandel deur voertuie getref is. “Ons kry geweldig baie van ons gevlekte ooruile in wat raakgery is. Hulle sit dan net daar teen die pad totdat hulle doodgaan omdat hulle nie meer kan wegvlieg nie.”
“Suid-Afrika staan oral bekend as die plek met die mooiste diere en wat regtig nog oop spasies met wilde diere het. Elke dier het ’n doel in die ekostelsel, en as jy een van daai diere uithaal dan veroorsaak jy ’n groot omwenteling. ’n Mens wil jou uiterste bes doen om hulle te bewaar en om vir hulle ’n plek te skep om te oorleef.”
