On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Biosekuriteit kort meer aandag in Suid-Afrika

───   05:00 Tue, 19 Dec 2023

Biosekuriteit kort meer aandag in Suid-Afrika | News Article

Die plaag van dier- en gewassiektes in Suid-Afrika was die afgelope paar jaar ’n toenemende kommer, wat die kwesbaarhede vir biosekuriteit in die landbousektor blootlê.

Dawie Maree, hoof van inligting en memarking by FNB Agribesigheid sê die ekonomiese gevolge van hierdie uitbrekings was diep. Dit strek verder as die onmiddellike invloed op opbrengste en resoneer deur die mark, wat die sekuriteit van verkope en uitvoer beïnvloed.

OFM-Inhoudsbestuurder, Elzette Boucher-Krüger, het met hom gepraat oor hoe produsente hul risiko kan verminder, asook wat die private sektor kan doen om te help.

Biosekuriteit is in wese ’n geïntegreerde stelsel waaraan alle belanghebbendes in die sektor behoort deel te neem om te beskerm teen die verspreiding van aansteeklike siektes na gewasse, vee en pluimvee. Die belangrikheid van hierdie biosekuriteitstelsel kan nie oorbeklemtoon word nie, soos onderstreep deur die onlangse uitbrekings van bek-en-klouseer, Afrika-varkpes en voëlgriep.

Ekonomiese invloed aansienlik

Die voëlgriep-uitbreking het byvoorbeeld gelei tot aansienlike verliese in die pluimveebedryf, wat ’n hoeksteen van die Suid-Afrikaanse landbou is. Meer as ’n honderd kommersiële pluimveefasiliteite het gevalle aangemeld, wat gelei het tot massiewe verliese en ’n toename in invoer van bevrugte eiers om die plaaslike teelvee te herbou. Dit het nie net produsente geraak nie, maar het ook gelei tot ’n merkbare styging in die prys van eiers, wat verbruikers direk beïnvloed het.

In nog ’n voorbeeld van ekonomiese invloed, het die uitbreking van bek-en-klouseer gelei tot ’n jaar-op-jaar afname van 12% in beesvleisuitvoer in 2022 as gevolg van die tydelike sluiting van verskeie uitvoermarkte.

Net so, vir saaiboere, bedreig siektes soos sitrusswartvlek en die teenwoordigheid van plae soos die kommandowurm die integriteit van gewasse, wat nie net opbrengste beperk nie, maar ook hul uitvoerpotensiaal.

Toenemend as kredietrisiko beskou

Banke en ander finansiële instellings, wat bewus is van hierdie risiko's, verwag ook dat relevante biosekuriteitsmaatreëls in plek sal wees om die risiko van die krediet wat aan boere verleen word, te verminder.

Die implementering van biosekuriteitsmaatreëls kom met sy eie stel uitdagings. Die koste vir boere om sulke maatreëls in te stel en in stand te hou, is dikwels aansienlik. Verder is daar ’n waarneembare gebrek aan hulpbronne. Daar is egter hoop met besprekings oor die private sektor se betrokkenheid by entstofverskaffing. Die voëlgriep-uitbreking het ook inisiatiewe aangespoor om maatskappye te registreer wat hierdie entstowwe kan invoer.

Private sektor kan help

Die rol van bedryfsorganisasies in hierdie landskap word ook al hoe meer deurslaggewend. Hierdie entiteite verskaf onskatbare riglyne vir beste landboupraktyke, wat noodsaaklik is vir die handhawing van ’n verdedigingslinie teen die verspreiding van siektes. Finansiële instellings werk toenemend saam met hierdie organisasies om hul landboubefondsingsaktiwiteite in lyn te bring met die beste praktyke wat hulle aanbeveel.

Uiteindelik, hoewel die koste van die implementering van biosekuriteitsmaatreëls uitdagend kan wees, sal die koste van gebrek aan optrede waarskynlik baie hoër wees – vir boere en verbruikers.

Artikel verskaf

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.