Agriculture
Hantering het invloed op skape se welstand, produksieprestasie─── 05:00 Wed, 20 Dec 2023
Skape, nes mense, kan deur gesigsuitdrukkings aandui wanneer hulle angs ervaar.
Navorsing toon dat hantering wel ’n invloed op die welstand van skape het en dat die teenwoordigheid van angs selfs aan gesigsuitdrukkings waargeneem kan word.
Die Universiteit van die Vrystaat se Natuur- en Lanbouwetenskapfakulteit hoop om met sy navorsing stresverwante siektes onder skape te verminder en sodoende hul welstand te verbeter.
Dr. Leon Kruger, lektor in die Department Dierewetenskap, het op Donderdag 7 Desember 2023, sy doktorsgraad ontvang.
Sy navorsing, getiteld: Die effek van temperament en stres op produksie en immuunrespons by skape, ondersoek onder die impak van korttermynstres op produksieprestasie by skape, die effek van stres op immuunrespons ná inenting, en die verband tussen ’n skaap se temperament en stres.
OFM Agri se Robyn Schutte het met hom gepraat:
In sy studie het Kruger die streshormoon kortisol in skape gemonitor om vas te stel of skape stres ervaar tydens roetinehantering. Hy het bevind dat in die geval waar skape onder baie stres verkeer, daar ’n toename van die streshormoon is wat kan lei tot ’n afname in weerstand teen stresverwante siektes soos koksidiose en pasteurella-longontsteking.
Hy het ook bevind dat skape, nes mense, deur gesigsuitdrukkings kan aandui wanneer hulle angs ervaar.
Dit is dan veral belangrik dat hanteerders die tekens moet kan identifiseer, en hul gedrag daarby aanpas, om te verseker dat skape te alle tye gelukkig is, selfs tydens hantering.
“’n Gelukkige dier gaan behoorlike produksiesyfers weergee. En ordentlike produksiesyfers gaan ordentlike inkomste verseker, en dit kan gevolglik tot ’n afname in stresverwante siektes lei. As ons stresverwante siektes kan uitskakel, kan ons so baie geld bespaar, en so ook die boer se inkomste verbeter,” sê Kruger.
Die samelewing bevraagteken dikwels hoe ons die diere wat ons eet behandel.
“Die fokus is nie net om te doen wat as die beste vir die diere beskou word nie, maar ook op die toepassing van praktyke wat stres beperk. Ons hoor so dikwels van bemarkingsslagspreuke soos ‘gras gevoer’ of ‘graan gevoer’ of ‘Karoolam’. Stel jou net voor hoe die verbruiker ’n slagspreuk soos ‘stresvry grootgemaak’ sal waardeer.”
Kruger se toekomstige navorsingsplanne sluit in die ondersoek van stressor-effekte wat met veeveilings geassosieer word. “Ek wil ook ’n spesie-woordeskat saamstel en spesifieke geluide wat diere in verskillende situasies maak, ontleed. Ek wil die geluid van ’n dier beskryf en aan ’n situasie koppel, byvoorbeeld die geluid wat ’n ooi maak kort nadat sy gelam het,” sê hy.
OFM Agri/Robyn Schutte dg
