Agriculture
‘Korporatiewe boer’ neem stuur oor by pluimveeprodusent─── 11:26 Tue, 16 Jan 2024

“Manzini is aangestel midde-in verskeie krisisse by Daybreak Farms, onder meer voëlgriep en beurtkrag.”
Een van Suid-Afrika se grootste pluimveeprodusente, Daybreak Farms, het bekend gemaak dat die huidige direkteur van sy oorgangsraad, Richard Manzini, nou aan die stuur van sake staan nadat die vorige hoof, Matshela Seshibe, ’n jaar gelede geskors is weens beweerde korrupsie.
Manzini word deur die maatskappy beskryf as ’n “korporatiewe boer” en ’n “taai en deurdagte strateeg”. Sy kwalifikasies sluit in ’n B.-graad in Sakewetenskap, ’n LL.B.-graad, ’n meestersgraad in sakebestuur (MBA), ’n meestersgraad in bestuur in finansies en beleggings (MMFI) en ’n meestersgraad in wetenskap.
Richard Manzini, nuwe uitvoerende hoof van Daybreak Farms. Foto: Food for Mzansi
Business Day berig Manzini is aangestel te midde van verskeie krisisse by Daybreak Farms, wat deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) besit word, onder meer die verwoestende effek van voëlgriep, beperkte kragvoorsiening en die stygende koste van voer.
‘Reusetaak vereis ’n dapper karakter’
“Die reusetaak om ’n entiteit in die heersende sakeomgewing om te keer, vereis ’n dapper karakter en die kundigheid van ’n strategiese leier met ’n diepgaande begrip van SA se pluimveebedryf en sy bydrae tot voedselsekerheid,” sê Vuyelwa Matsiliza, voorsitter van die Daybreak Farms-direksie.
“Manzini is perfek vir die rol. Hy het die afgelope tyd bygedra tot aansienlike stabiliteit en groei in die sektor.”
Daybreak Farms verskaf gekontrakteerde braaikuikenplase in Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal van dag oud kuikens, wat die kuikens dan grootmaak, waarna dit as vars en bevrore heel hoenders en porsies verkoop word.
‘Een van die land se grootste pluimveeprodusente’
Die maatskappy is een van die land se grootste pluimveeprodusente en is ten volle in staatsbesit deur die OBK, wat dit bestuur namens die staat se pensioenfonds, die Werkloosheidversekeringsfonds en die Vergoedingsfonds wat elk ’n derde besit.
Die maatskappy het in die moeilikheid beland nadat meer as R150 miljoen glo deur ’n groep individue, verbonde aan die maatskappysekretaris, met die geld verdwyn het, berig Sunday Times.