Agriculture
Beter begrip nodig vir grondbewaring─── 05:00 Thu, 11 Jan 2024
“’n Diepgaande begrip van grond-erosieprosesse, tesame met die identifisering en kwantifisering van sedimentbronne, kan bewaringspogings bepaal.”
Gronderosie het nie net ’n nadelige uitwerking op landbouproduktiwiteit deurdat dit die gehalte van bewerkbare grond verswak nie, maar die gepaardgaande sedimentasie in waterliggame verminder die reservoir-opgaarkapasiteit met ’n magdom nadelige effekte op waterlewe.
Dis volgens dr. Marike Stander, dosent in die Departement Geografie aan die Universiteit van die Vrystaat, wat onlangs met haar Ph.D.-navorsing in die verwikkeldheid van gronderosie gedelf.
OFM Agri se Robyn Schutte het met haar gesels.
Stander se tesis het gekonsentreer op ’n opvanggebied in die Oos-Vrystaat wat bekend is vir erodeerbare grond, en haar ontleding van sedimente het hul oorsprong ontrafel.
Sy voeg by dat ’n diepgaande begrip van grond-erosieprosesse, tesame met die identifisering en kwantifisering van sedimentbronne, bewaringspogings kan bepaal. “Vir landbougrond beteken dit die volhoubaarheid van produktiwiteit en voedselsekerheid, en vir waterbronne hou dit waarde in om reservoirplasing te beplan, waterberging te optimaliseer en gesonde akwatiese omgewings te verseker,” verduidelik sy.
“In ooreenstemming met wêreldwye inisiatiewe speel gesonde grond ’n deurslaggewende rol in die bereiking van baie van die Verenigde Nasies se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG), aangesien dit verband hou met die beveiliging van terrestriële ekosisteme, die omkeer van gronddegradasie en die bevordering van volhoubare landbou, om maar ’n paar te noem.”
Stander meen dis lonend om by te dra tot die wêreldwye omgewingskwessie van gronderosie wat dikwels misgekyk word. “Die potensiaal om selfs ’n geringe impak op die omgewing en samelewing te maak, is betekenisvol en vervullend,” sê sy.
