Agriculture
Vergoedingsfonds – wysigings, fokusareas vir 2024─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 17 Jan 2024

Vyf-en-twintig duisend produsente is nie-nakomend wat natuurlik finansiële en wetlike gevolge inhou.
Die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en –siektes (WVBBS) speel ‘n belangrike rol in Suid-Afrika se landbousektor.
Dit laat produsente en werkers onder meer toe om vergoeding te eis vir 'n besering of siekte wat aan diens opgedoen is, en indien iemand sou sterf, kan hul afhanklikes by die Vergoedingsfonds eis.
Stephan Pietersen van Work Accident Support deel dat uit die 875 000 besighede wat met die Vergoedingsfonds geregistreer is, net meer as 30 000 boerderye by dié fonds geregistreer is.
Vyf-en-twintig duisend van hierdie produsente is nie-nakomend, wat natuurlik gevolge inhou.
Wysigings om voor op die uitkyk te wees
Verskeie wysigings is aan die WVBBS gebring, wat deur President Cyril Ramaphosa in April 2023 onderteken is.
Dit kan finansiële en wetlike gevolge vir produsente inhou indien dit nie nagekom word nie.
Pietersen verduidelik dit sluit in boetes wat uitgereik sal word aan produsente wat geregistreer is met die fonds maar nie hul jaarlikse loonopgawes inhandig nie.
“Maar nie net dit nie, indien die rekening nie betaal word binne 30 dae nie, gaan die persentasie heelwat meer wees …”
Pietersen sê wel ’n betalingsooreenkoms kan getref word met die fonds om boetes te vermy.
Publieke besprekings vind tans in Bloemfontein plaas, waar landbou-organisasies en rolspelers hul kommentaar oor die wysigings lewer. Sodra dit afgehandel is, sal die wysigings geïmplimenteer word, waarskynlik later vanjaar.
Wat produsente op moet fokus in 2024
“My voorstel sal wees dat daardie produsente eerstens ’n rekord by die Vergoedingsfonds moet bekom oor wat die stand van hulle rekening is, en dan alle uitstaande lone te verklaar sodat die Vergoedingsfonds die rekeninge tot op datum kan uitreik, wat betaalbaar sal wees binne 30 dae.
“Ook belangrik om te onthou is dat boerderye aansoek moet doen by die Vergoedingsfonds as boerdery aktiwiteite gestaak is.
“My ondervinding is dat baie produsente verkeerd geregistreer is wat beteken dat hulle rekeninge te veel kan wees.
“So, hulle kan kyk op hulle rekeninge hoe hulle geregistreer is en indien hulle sou agterkom dat dit wel verkeerd is, kan hulle aansoek doen om dit te laat verander,” stel Pietersen aan produsente voor.