Agriculture
Nuwe geleenthede wink met vleisuitvoer─── 05:00 Tue, 23 Jan 2024
Produsente moet kyk na moontlike uitvoer van vleis in die toekoms omdat dit ’n belangrike aspek is om ‘n konstante vraag vir produkte daar te hou.
Prof. Frikkie Maré, landbou-ekonoom en uitvoerende hoof van die Roovleisprodusenteorganisasie, sê hy kry dikwels die vraag: “Waarom uitvoer?”
“Ek dink ons moet mooi gaan kyk na hoekom uitvoer bestaan. Indien jy teruggaan na die voorvaders van ekonomie het hulle in die begin gesê dat een land ’n produk moet hê wat die ander land glad nie het nie, en dan kan hierdie land na daardie land uitvoer.”
Dus het produsente begin uitvoer wat hulle maklik en koste-effektief kan produseer, en die ander produkte wat sukkel is ingevoer.
“In Suid-Afrika het ons moontlik die kapasiteit om ons bees- en skaapvleis op te eet. Die probleem is egter dat daar nie regtig ’n sterk genoeg ekonomiese vraag is om ‘n regverdige prys hiervoor te kry nie. Indien die produkte net in Suid-Afrika bly gaan dit beteken dat ons pryse verder afgedruk word aangesien die koopkrag net nie daar is nie.”
Maré gebruik die voorbeeld van beesvoorkwarte wat ’n goedkoper snit is wat rooivleis betref en wat die armer bevolking meer benut.
“Nou wanneer die ekonomie onder druk kom en verbruikers nie geld het nie, is selfs hierdie rooivleis egter te duur. Jou welaf mense stel nie regtig belang in die voorkwartsnitte nie. En jou armer deel van die bevolking het glad nie die geld om dit te koop nie. Skielik sit jy met ’n oormaat voorkwarte wat op die ou einde die hele karkas se prys afdruk al bly die prima snitte se pryse nog steeds hoog.”
Indien ons hierdie voorkwarte na ’n land toe kan uitvoer wat ’n voorkeur het vir voorkwartsnitte, dan gaan dit beteken dat ons ’n konstante vraag na hierdie produkte daar kan stel.

Dit is belangrik dat boere na dieregesondheidskwessies kyk. Foto: Mark Stebnicki/Pexels
Dit gaan dalk nie beteken dat ons prys gaan verdubbel op kort termyn nie, maar indien ons ’n ekstra vraag het, gaan dit beteken dat wanneer die ekonomie in Suid-Afrika swaartrek, die prys van ons karkasse nie soveel gaan daal nie, aangesien die vraag na die uitvoer van voorkwarte steeds daar gaan bly.
“As ons genoeg vleis gaan uitvat, dat ons amper ’n binnelandse tekort het, gaan hierdie tekort weer opgemaak word uit goedkoper vleis wat van ander lande af inkom. Ons kry gevriesde skaapvleis uit Nieu-Seeland en Australië wat baie goedkoper is as die produkte wat plaaslik geproduseer word, selfs nadat invoertariewe bygereken is.”
Maré waarksu egter dat daar na dieregesondheidskwessies gekyk moet word om seker te maak Suid-Afrika het ’n goeie uitvoerstatus.
OFM Agri dg
