Agriculture
LUISTER: Jongste graanmarkverslag deur Johnny van der Merwe─── 05:00 Wed, 24 Jan 2024
“Wat wel die verskil kan beteken, is reënval plaaslik, asook in Brasilië en in Noord-Amerika, oor die volgende twee tot drie maande.”
’n Ekonoom verbonde aan die Noordwes-Universiteit, asook die uitvoerende direkteur van AMT, Johnny van der Merwe, sê mieliepryse het gedaal na R3 895, terwyl die geskatte Julie 2024 prys ook daal na R3 711.
- Die geelmielie ‘spot’-prys daal na R3 636 terwyl die geskatte Julie 2024 prys ook afwaarts neig na R3 642 per ton.
- Die soja ‘spot’-prys het ook aan die begin van die week gedaal na R8 400 met die geskatte Mei 2024 prys laer op R8 269.
- Die sonneblom ‘spot’-prys daal na R8 310 terwyl die geskatte Mei 2024 prys daal na R8 300 per ton.
Van der Merwe sê hy het die afgelope drie jaar se data vergelyk met die periode van 2014 tot 2017 en daar was ’n baie sterk ooreenstemming tussen hierdie periodes.
“Pryse in 2015 en 2022 het konstant opwaarts beweeg, al was dit vir verskillende redes gewees en het van ’n laer basis gekom. Die vorige jaar in 2016 en 2023 het ons weer ’n prys gesien wat in ’n afwaartse tendens was, veral tydens die middel van die jaar.”
Hy noem dis interessant dat pryse in 2017 teruggesak het na die vlakke wat dit in 2014 was.
“As dit die geval is tydens 2024, kan ons sien dat pryse tussen R3 000 en R3 200 kan verhandel tydens Juliemaand.”
Wat wel die verskil kan beteken, is reënval plaaslik, asook in Brasilië en in Noord-Amerika, oor die volgende twee tot drie maande.
“’n Midsomer droogte plaaslik kan veral witmieliepryse van middel April weer laat begin styg. Tans lyk dit of die weer wel saamspeel.”
Luister na die volledige verslag hier:
