Agriculture
Keer só dat jou vee gesteel word – Noord-Kaapse polisie─── 15:05 Wed, 24 Jan 2024
“Wees veral waaksaam wanneer daar ’n volmaan is, oor naweke en aan die einde of begin van ’n maand.”
“Veediefstal raak nie net boere se lewensbestaan nie, maar het ook maatskaplike en ekonomiese gevolge,” sê Sergio Kock, polisiewoordvoerder in die Noord-Kaap. “Veediefstal lei tot kommer oor dierewelsyn, die ontwrigting van die voedselverskaffingsketting en verhoogde spanning tussen boere en omliggende gemeenskappe.”
Die polisie vra boere om die volgende veiligheidswenke toe te pas om hul vee te beskerm:
- Verseker dat alle heinings en hekke in goeie werkende toestand gehou word.
- Herstel gate in en onder heinings onmiddellik.
- Eienaars moet nie net delegeer nie, maar ook beheer neem deur hul vee self te inspekteer.
- Afgeleë opritte waar vee gelaai word, moet altyd gesluit of versper wees.
‘Ken jou bure’
- Veekrale en -kampe moet beveilig wees.
- In die beplanning van veekampe is dit raadsaam om die vorming van hoeke langs paaie te vermy omdat dit die ideale geleentheid vir veediewe skep om vee bymekaar te jaag en op te laai.
- Wanneer jy ’n bykomende plaas koop, oorweeg dit om een wat naby jou woonplaas is aan te skaf.
- Wees veral waaksaam wanneer daar ’n volmaan is, oor naweke en aan die einde of begin van ’n maand, of gedurende tydperke wat jy uit ondervinding weet veediefstal, oftewel slag vir die pot, plaasvind.
- Ken jou bure.
‘Hou ’n veeregister by’
- Tel jou vee minstens een keer per week.
- Die byhou van ’n deeglike veeregister kan nie genoeg beklemtoon word nie.
- Merk jou vee! Gaan na jou plaaslike polisie se veediefstaleenheid waar aansoekvorms beskikbaar is en waar jy kan aansoek doen vir handelsmerksertifikate van die Departement van Landbou.
- Veeboere moet hul vee behoorlik merk volgens die Wet op Diere-identifikasie verkieslik deur hulle te brandmerk.
- Boere word aangeraai om in tegnologie soos kringtelevisiekameras te belê.
- Indien jy vreemde diere of verdagte persone by ’n veepos opmerk, meld dit dadelik by die polisie en jou bure aan.
“Veediefstalsake word dikwels teruggetrek weens ’n gebrek aan belangstelling of onwilligheid deur sommige klaers om hofverrigtinge by te woon. Werk saam met die polisie en sy veediefstaleenheid, moenie teen hulle werk nie,” sê Kock.
“Die diefstal van vee word gedryf deur die groot vraag na vleis en ander veeprodukte, asook die maklike toegang tot markte waar gesteelde diere verkoop kan word. Dit vereis ’n gesamentlike poging van alle belanghebbendes. Deur saam te werk sal ons veediefstal bekamp en die lewensbestaan van boere oor die land heen beskerm.”
Enigeen met inligting oor veediefstalaktiwiteite kan die Stop Misdaadnommer 08600 10111 bel of anoniem wenke op die MySAPS App plaas. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
