Agriculture
Ontleding: Wat sit agter trekkerverkope?─── 10:31 Fri, 26 Jan 2024
Trekkerverkope beloop 8 380 eenhede, ’n afname van 9% vanaf 2022.
Wandile Sihlobo, Agbiz se hoofekonoom, bekyk onlangse syfers van trekker- en stroperverkope wat ’n afname toon in ‘n jaar waar oeste baie goed was.
Hy sê Suid-Afrika se oeste was uitstekend in die 2022/23-seisoen.
“Die mielie-oes het 16,4 miljoen ton beloop, wat 6% hoër is as in 2021/22, en die tweede grootste oes op rekord. Die sojaboonoes is op 'n rekord van 2,8 miljoen ton. Suid-Afrika se suikerrietoes was in 2023/24 op 18,5 miljoen ton, ’n toename van 3% jaar-op-jaar. Ander landbougewasse en vrugteoeste was ook bestendig in 2023.”
‘Verkope weerspieël die prestasies nie’
As mens egter na trekker- en stroperverkope kyk, lyk dit nie of hierdie prestasies daarin weerspieël nie.
“Suid-Afrika se verkope het ’n gemengde prentjie in 2023 geskets. Trekkerverkope beloop 8 380 eenhede, ’n afname van 9% vanaf 2022. Die afname in trekkerverkope is egter nie verrassend nie, aangesien ons verwag het dat die verkope sou afneem na 'n paar jaar van uitstekende aktiwiteit.”
Trekkerverkope vir 2022 het 9 181 eenhede beloop, 'n toename van 17% jaar-op-jaar en die hoogste jaarlikse verkope vir die afgelope 40 jaar.
‘Verkope is hoofsaaklik danksy ’n groot graan- en oliesaadoes’
Stroperverkope staan op 505 eenhede, 35% hoër jaar-op-jaar. Dit volg op ’n uitstekende prestasie van 373 eenhede in 2022, ’n toename van 38% en die hoogste jaarlikse verkope sedert 1985.
“Hierdie sterk verkope is hoofsaaklik te danke aan ’n groot graan- en oliesaadoes.”
Sihlobo meen daar is verskeie faktore hiervoor. Een van die belangrikste is die laer vervangingskoers van ouer trekkers, aangesien die afgelope drie jaar ’n toename in nuwe masjienverkope gesien het. Verder het die stygende rentekoerse druk op boere se geldsake geplaas. Die relatief swakker rand-wisselkoerse het ook ’n negatiewe invloed gehad op boere se aankoopbesluite.
Luister onder na die volledige ontleding:
