On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Agriculture

Sitrusproduksiekursus bied nuwe geleenthede aan leerders

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Mon, 05 Feb 2024

Sitrusproduksiekursus bied nuwe geleenthede aan leerders | News Article
In 2023 het die sitrusbedryf in Suid-Afrika 165,1 miljoen (15 kg) kartonne uitgevoer. Foto: Getty Images

“Die Sitrus Sekondêr-program het die potensiaal om 'n beduidende bydrae tot die groei van plaaslike vaardigheidspoele te lewer.”

Met die nuwe skooljaar wat onlangs begin het, gaan 16 hoërskole landwyd vanjaar ook 'n kursus in sitrusproduksie aanbied. Kakamas in die Noord-Kaap is ook een van die gebiede waar die kursus aangebied word.

Die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika (CGA) sê die Sitrus Sekondêr-program skep 'n geleentheid vir leerders om 'n reeds erkende plantproduksie-kwalifikasie op hoërskool te behaal. Dit word deur die Sitrusakademie – 'n filiaal van die CGA – aangebied,

Jacomien de Klerk, uitvoerende hoof van die Sitrusakademie, sê meer as 450 leerders by die betrokke skole sal na verwagting vanjaar vir die program inskryf.

“Dit word deur skole in sitrusproduserende streke aangebied en 16 skole sal die program instel,” sê De Klerk.

Die opvoedkundige geleentheid word oor twee jaar gefasiliteer en is gemik op gr. 10- en gr. 11-leerders.

 “Die program is ten volle kurrikulum-belyn en kan as deel van landboubestuurspraktyke, 'n skoolvak, gebruik word. Dit kan ook as 'n buitemuurse aktiwiteit ingestel word waardeur leerders 'n waardevolle kwalifikasie kan verwerf,” sê sy,

“Dit pak 'n uitdaging wat baie skoolverlaters ongelukkig in die gesig staar: om min vaardighede te hê terwyl hulle nie toegang tot tersiêre opleiding het nie.”

Sitrus Sekondêr ondersteun ook hul doelwitte om die transformasie van die sitrusbedryf voort te sit, en “om 'n heel nuwe, passievolle generasie toetreders tot die sektor te skep”.

Sitrusproduksie gaan vanjaar by 16 hoërskole landwyd aangebied word. Foto: Marian Florinel Condruz, Pexels

“Die Sitrus Sekondêr-program het die potensiaal om 'n beduidende bydrae tot die groei van plaaslike vaardigheidspoele te lewer en om sodoende in die vraag na geskoolde werkers te voorsien,” sê De Klerk.

In 2023 het die sitrusbedryf in Suid-Afrika 165,1 miljoen (15 kg) kartonne uitgevoer vir lewering aan wêreldmarkte. Dit onderhou 140 000 mense op plaasvlak en bring meer as R30 miljard per jaar in uitvoerinkomste in. Skattings dui daarop dat die bedryf in die volgende agt jaar met 'n verdere 100 000 werkgeleenthede kan groei as alle rolspelers saamwerk om verhoogde marktoegang en verbeterde uitvoerlogistiek te verseker.

OFM Agri/Robyn Schutte dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.