On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Agriculture

Noord-Kaapse boere juig oor druiweoes

───   14:02 Wed, 07 Feb 2024

Noord-Kaapse boere juig oor druiweoes | News Article
Gabriel Viljoen, voorsitter van die Oranjerivierprodusente-alliansie. Foto: GP Viljoen Farms

“Ons boere is maar uitgelewer aan die natuur.”

Druiweboere van die Oranjerivierprodusente-alliansie (Orpa) in die Noord-Kaap sê die weer het vanjaar mooi saamgespeel om ’n goeie oes tafeldruiwe te verseker.

Gabriel Viljoen, Orpa-voorsitter, wat buite Upington boer, sê 24 miljoen kartonne tafeldruiwe is reeds verpak. Dit is ’n aansienlike toename van die vorige seisoen se 16,4 miljoen kartonne.

“Die weersomstandighede was baie gunstig. Reën wat op die verkeerde tyd val, kan groot skade aanrig, soos donsskimmel, maar ons was vanjaar geseënd. Ons boere is maar uitgelewer aan die natuur.”

Tafeldruiwe word aangeplant oor ’n gebied van sowat 5 800 ha, wat sowat 350 km langs die Benede-Oranjeriviergebied strek, van Onseepkans tot by Groblershoop.

Pas geoeste druiwe word verpak vir oorsese markte. Foto: GP Viljoen Farms

Viljoen sê 100% van die tafeldruiwe wat deur Orpa geproduseer word, word na die buiteland uitgevoer, waarvan 50% na Europa, sowat 30% na Brittanje en die res na Kanada, die Midde- Ooste en Asië. 

“Ons grootste uitdaging is die logistiek van die uitvoerbedryf. Ons produkte kom betyds by die hawe, maar weens swak bestuurspraktyke by hawens kom dit nie betyds by oorsese supermarkte nie. Ons het voorheen van die Kaapse hawe gebruik gemaak, maar gebruik nou die hawens in Durban en Gqeberha, ten minste kom ons vrugte nou op die vragskepe.”

Viljoen sê beurtkrag en arbeidskoste eis ook sy tol. Die bedryf verskaf werk aan 35 000 seisoenwerkers en 6 000 permanente personeel. “En ons het mense nodig, ons kan nie meganiseer nie.”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.