On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Agriculture

Blêrrie oulike aanbod op mylpaalveiling

───   07:04 Fri, 09 Feb 2024

Blêrrie oulike aanbod op mylpaalveiling | News Article
Foto: Konsortium-Merino

Hierdie Februarie bereik ’n groep stoettelers in die Noord-Kaap ’n besonderse mylpaal en vier dit ook op besonderse wyse.

Konsortium-Merino op Victoria-Wes is vanjaar die eerste in die Suid-Afrikaanse landboubedryf om 100 veilings te hou.

Op 15 Februarie kom 500 ramme onder die hamer, en by ’n dinee wat die voorafgaande aand gehou word, word 16 stoetramme wat deur die jaar uitgehou is, opgeveil vir liefdadigheid tydens die “Goedvoel-veiling”.

Pieter Möller het met Gawie van Heerden, stigter en eienaar van Konsortium-Merino, oor die geleentheid gepraat.

Van Heerden sê die lede wil met dié liefdadigheidsveiling terugploeg in die gemeenskap. Daar gaan op die aand R100 000 aan ’n liefdadigheidsorganisasie, wat vooraf kon aansoek doen om deel te wees van die trekking, geskenk word.

Die pragtige wol op een van die Goedvoel-veiling se ramme. Foto: Konsortium-Merino

“Daai ramme gee ons ’n naam wat spesifiek ook weer hulde bring aan mense wat ’n rol gespeel het in die konsortium die afgelope 23 jaar. Ons minimumbod, ons het hom ge-inflate soos hulle sê, jy gaan minstens R25 000 moet betaal.”


Dié groep is in 1996 op die plaas Dombietersfontein gestig deur ’n unieke vennootskap tussen vier Merinostoeterye met die doelwit om ’n Merino met ’n groot karkas met fynwol van gehalte te teel. Vandag is Konsortium-Merino 15 telers sterk, en verkoop die meeste ramme in die land.

Die stigterslede van Konsortium-Merino in 2001. Foto: Konsortium-Merino 

Tydens Konsortium-Merino se 99ste veiling is ’n ram vir die hoogste prys van R21 000 verkoop. Al 146 ramme is teen ’n gemiddelde prys van R8 140 verkoop.


Die spesiale brandmerk vir die ramme op die 100ste veiling. Foto: Konsortium-Merino

“Ons het nie in 2001 begin met die doel om 100 veilings te bereik nie. Soos hulle in rugbyterme praat, jy vat dit wedstryd vir wedstryd. Ons het dit veiling vir veiling gevat. En hier is ons by honderd veilings. Wat ’n ongelooflike mylpaal. Groot opgewondenheid heers by die konsortium en sy telers, boere, kliënte en ondersteuners,” vertel van Heerden en rig ’n uitnodiging aan almal om die dag saam met hulle te geniet.

OFM Agri dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.