Agriculture
Hopetown-distrik: Skool skep hoop op platteland─── 05:00 Mon, 19 Feb 2024

“Die doel is om uiteindelik 100 ECD-skole op plase te vestig.”
GWK, Standard Bank, en die De Lande-plaas het onlangs saamgespan om ’n splinternuwe vroëe kinderontwikkelingsentrum op ’n plaas in die Noord-Kaap te stig.
Salt & Light, is op 29 Januarie 2024 amptelik geopen op die De Lande-plaas in die Hopetown-distrik. Dit is die vierde sentrum van sy soort waarby GWK betrokke is en is geloods deur GWK H2O.
Die doel van GWK H2O is om gemeenskapsprojekte te ondersteun deur nuwe programme en inisiatiewe te ontwikkel, met die hulp van sakevennote en borge.
Die sentrum is gemik op kinders van twee tot vyf jaar en bied ’n unieke geleentheid vir hulle om deur gestruktureerde lesplanne te leer en te ontwikkel. Die lesplanne sluit in aktiwiteite soos perdeterapie en die kweek van vars groente, asook kuns- en kulturele projekte.
Salt & Light sal 20 kinders per weeksdag akkommodeer, met planne vir toekomstige uitbreiding. Die sentrum bied ook ’n voedsame daaglikse spyskaart, saamgestel deur '’n gekwalifiseerde dieetkundige.
Vroeëkinderontwikkeling is op lang termyn belangrik. Foto: Getty Images
Neil de Klerk, VKB Groep se streeksdirekteur vir GWK en uitvoerende hoof van groepsbemarking en kommunikasie, sê die doel is om uiteindelik 100 ECD-skole op plase te vestig deur saam te werk met boere en met die hulp van eksterne vennote. “Die toevoeging van Standard Bank as 'n vennoot dra by tot die volhoubaarheid van die ECD-model wat geskep is, en maak 'n blywende verskil in gemeenskappe.”
Hy beklemtoon die langtermynwaarde van belegging in vroeëkinderontwikkeling is belangriker as die monetêre waarde. “Hierdie projek skep ook werkgeleenthede in landelike gebiede op 'n tydelike en permanente basis, terwyl dit gehalteonderwys aanbied, op 'n kritieke stadium, aan kinders wat op plase woon.”
OFM/Agri dg