Agriculture
Saai loods betredingsveldtog─── DANE BEISHEIM 05:00 Fri, 23 Feb 2024
“Saai begin vendeesweek met ’n omvattende veldtog om boere te help om weerstand te bied.”
Onwettige betreding en betreding van private eiendomme het een van die algemeenste misdade geword wat landbouproduksie op klein- en mediumskaalse plase in Suid-Afrika belemmer.
Die landbouorganisasie, Saai, (Southern African Agri Initiative) sê betreding lei tot ernstiger misdade soos diefstal, onwettige beweiding van vee, beskadiging van eiendom, sny van heinings en die skep van konflik en aanvalle.

Saai wil boere help om weerstand teen betreding te kan bied. Foto: Getty Images
Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter, sê hulle het besluit om 2024 die jaar van die bekamping van onwettige betreding en indringing te maak. Vir dié doel het Saai vendeesweek met ’n omvattende veldtog begin om boere te help om weerstand te bied.
OFM se Dane Beisheim het met hom gepraat
Saai sê in verklaring die veldtog begin met Paia-aansoeke teen Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, en Bheki Cele, minister van polisie, om inligting te verkry oor die aantal sake wat by polisiekantore aangemeld is, die ondersoeke na hierdie sake, die aantal inhegtenisnemings, die aantal verdagtes wat aangekla is en die uitslag van hierdie strafsake in die hof.
“Daarna sal ’n massiewe veldtog volg om boere en grondeienaars te motiveer om sulke sake by polisiekantore aan te meld en om Saai ook van hierdie sake met saaknommers in kennis te stel, sodat die data verwerk kan word en prokureurs kan opvolg.”
‘Boer kry toegang tot ’n verskeidenheid funksies’
Saai het sowat drie jaar gelede plaaskennisgewingborde bekendgestel wat nou met QR-kodes opgegradeer word. “Wanneer hierdie QR-kodes geskandeer word, gee dit die boer toegang tot ’n verskeidenheid funksies soos volledige regsadvies wat deur prokureurs opgestel is om rigting aan die grondeienaar of enige ander belanghebbende party te gee oor wat om te doen tydens ’n grondbesetting.”
Nog ’n QR-kode gee jou toegang tot ’n klagtevorm wat digitaal opgestel, voltooi en ingedien kan word. Saai stoor ook ’n afskrif van die klagte namens die grondeienaar om ’n saak vir toekomstige regsaksies te bou.
‘Belangrik dat boere aan veldtog deelneem’
“Dit is belangrik dat boere aan hierdie 2024-veldtog deelneem. Die ergste wat met ’n grondeienaar kan gebeur as dit by betreding op sy plaas kom, is wanneer sulke grondeienaars niks doen nie en hoop iemand anders dit vir hulle sal doen. Ons glo vas dat ons deur ’n gesamentlike poging soos hierdie veldtog vir boere die nodige beskerming kan skep teen ’n sluipende verlies van grond of die gebruik daarvan.”
OFM Agri dg
