Agriculture
LUISTER: Gemeenskappe staan saam, veg teen landelike verval─── 05:00 Mon, 26 Feb 2024
“Sonder boere kan daar nie ’n Suid-Afrika wees nie, maar sonder ’n gemeenskap kan daar ook geen boere wees nie.”
Die gesegde “Gedeelde smart is halwe smart; gedeelde vreugde, dubbel vreugde”, het onlangs gestalte gekry op NAMPO Park buite Bothaville waar tientalle verskilmakers hul gemeenskapsprojekte om die platteland op te hef, gedeel en mekaar bemoedig het.
Die “Oplossings vir Suid-Afrika se Platteland”-kongres is aangebied deur Landbouweekblad en Senwes, saam met ander rolspelers, van 20 tot 21 Februarie 2024.
“Sonder boere kan daar nie ’n Suid-Afrika wees nie, maar sonder ’n gemeenskap kan daar ook geen boere wees nie. Hoe maak ons seker dat plattelandse gemeenskappe nie net oorleef nie, maar ook floreer?
“As ’n publikasie wat al vir meer as ’n eeu landelike Suid-Afrika dien, het Landbouweekblad nie net ’n verantwoordelikheid om landelike Suid-Afrika te help herleef nie, maar ken ons ook die mense wat reeds ’n verskil maak deur beter, ryker en meer inklusiewe landelike gemeenskappe op te bou,” sê Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad.
“Landbouweekblad se Bela-Bela-grondberaad was ’n wonderlike inisiatief. Tydens die konferensie is talle planne gemaak, mense het met blink idees na vore gekom en nuwe verhoudings is gesmee,” vertel Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes.
“Goeie besigheid benodig sterk gemeenskappe. By die beraad ontmoet ons mense, maatskappye en organisasies wat weier om slagoffers van politici se onbekwaamheid te wees. Ons is mense wat droom van ’n beter toekoms vir ons kinders en ons gemeenskappe, maar pleks daarvan dat ons lugkastele bou en wag vir die regering om uiteindelik dienste te lewer, voeg ons daad by woord,” sê Strydom.
Van ’n gevestigde skaapboer wat ’n mentorskap deur ’n vraag op sosiale media gevestig het, tot boere wat self ’n kliniek opgerig het om gebrekkige mediese dienste aan te spreek, tot die ontwikkeling van kinders in plaasgemeenskappe is van die stories van hoop wat op die kongres gedeel is.
“Hoe kan ek help?” was Marius Pienaar, ’n Merinoteler van De Aar in die Noord-Kaap, se repliek op Mthunzi Ntutela, ’n skaapboer van die Komkhulu-nedersetting in die Oos-Kaap se Facebook-inskrywing waar hy raad gevra het oor sy gemeenskap se uitdagings om nuwe, goeie gene vir hul skaapkuddes te bekom.
Ná verskeie e-posse en WhatsApps het Marius Mthunzi na sy plaas genooi, en daarna is ’n waardevolle vriendskap en vennootskap gesmee.
Met Ntutela se soeke na ’n plaaslike, betroubare verskaffer van merinoskape om sy kudde te verbeter het sy pad ook met John Miller gekruis. Hy was ’n verskaffer vir die genetiese verbeteringsprojek, wat gehalte stoetdiere aan Oos-Kaapse wolboere voorsien het, maar nadat die staat dit nie meer befonds het nie, was die diere vir die slagpale bestem om sy verliese te verhaal.
Van meet af het John vir Mthunzi en sy mede-boere met uitstekende teeldiere voorsien. Die eerste jaar het John die boere met sowat 60 dragtige jong ooie voorsien en kort daarna het hy ook stoetramme aan hulle verkoop.
Jan Scheepers se bekommernis oor die veiligheid van sy werkers wat daagliks op die berugte R26 in die Oos-Vrystaat ry, het hom gedwing het om meer te doen as om net gate met klippe vol te maak. Jan het teer gekoop en hy en sy werkers het begin om ’n gedeelte van die pad na sy plaas te herstel. “Wat is die koste van ’n lewe? Jy kan nie ’n prys daaraan koppel nie. Ek het net besluit terwyl daar nog ’n pad is, terwyl daar nog iets te redde is, laat ek regmaak.”
Ondanks ’n private mediese praktyk en ’n staatshospitaal op Prieska, is daar nie genoeg kundiges en toerusting om mense in lewensgevaarlike situasies te behandel en te stabiliseer nie. Landbouer Henry Coetzee het toe die inisiatief geneem en die gemeenskap bymekaar getrek om ’n mediese sentrum tot stand te bring.
Voormalige Graan SA hoof-uitvoerende beampte, Jannie de Villiers, het tydens die geleentheid gesê dit is bemoedigend om te sien hoe gemeenskappe bymekaar kom en self inspring om hul probleme aan te spreek. OFM Agri se Robyn Schutte het met hom gesels.
Saamgestel deur OFM Agri.
