Agriculture
Vrystaatse simbra-koei raap internasionale skoonheidstitel op─── ELSABÉ DE JAGER 10:34 Tue, 05 Mar 2024
“Ons verteenwoordig Fergie, wat ’n paar weke gelede aangewys is as Miss World Simbrah, vandeesweek by die prysuitdeling hier,” vertel hulle trots.
“Rotswand Fergie LZ2125 is ’n koeitjie wat ons self geteel het teen die Rotswandkudde. Genotipies ’n ongelooflike mooi koei en ’n ware skoonheidskoningin.”
Riaan en Norma van Zyl, eienaars van die plaas Rotswand buite Winburg, se opgewondenheid ken geen perke daar waar hulle vroegoggend telefonies uit Houston, Texas, gesels nie. “Ons verteenwoordig Fergie, wat ’n paar weke gelede aangewys is as Miss World Simbrah, vandeesweek by die prysuitdeling hier,” vertel hulle trots.
“Fergie is gebore op 9 Junie 2021, dus nog nie eens drie jaar oud nie. Sy is tans op die plaas, dragtig met haar tweede kalf,” vertel Riaan. Fergie se pad na haar internasionale skoonheidstitel het reeds in September 2023 op Parys in die Vrystaat begin, waar die Simbra-genootskap van Suid-Afrika elke vier jaar ’n nasionale skou aanbied.

Riaan en Norma van Zyl het tydens hierdie opwindende tyd ook talle beesboerderye in Amerika besoek. Foto verskaf
Fergie, die jongeling, het daar nie net die junior kampioenskap gewen nie, maar ook as algehele wenner uit die stryd getree. “Dit het haar die titel as Suid-Afrikaanse Simbra-kampioen besorg en die pad oopgemaak na die internasionale kampioenskap wat in Januarie in Houston, Texas, plaasgevind het.”
“Die groot vraag op almal se lippe is natuurlik of Fergie saam met ons oor die hele wêreld rondbeweeg het,” lag Riaan. Die hele kompetisie vind plaas met foto’s en video’s, “want dis fisies onmoontlik om die hele wêreld se beeste op een plek bymekaar te kry.”
Fergie se eerste ronde van deelname was aan die Afrika- en Asiëkompetisie, waar sy as wenner gekroon is. “Dit het haar van ’n plek in die finale ronde in Texas verseker, waar sy teen deelnemers van Kanada, Australië, Nieu-Seeland, Paraguay, Guatemala, Argentinië, Brasilië en nog veel meer lande te staan gekom het,” vertel Riaan.

Houston, Texas, se bevolkingsyfer staan tans op ongeveer 30 miljoen inwoners. Foto: Wikipedia
“Dis net beeste, cowboys en perde waar jy kyk hier op die jaarlikse Houston Livestock and Rodeo Show, waar die prysuitdeling plaasvind,” lag Riaan en Norma. “Fergie sit ook nie stil terwyl ons haar toekenning hier in die vreemde in ontvangs neem nie. Sy was die afgelope week op die VKB se Bieliemieliefees op Reitz!”
Vir dié skoonheidskoningin wag daar egter nou, met die terugkeer van haar eienaars, ’n rustiger tyd, totdat sy die trotse ma van nóg ’n kalfie word.
“Bloemfonteiners kan egter uitsien na haar besoek aan die Bloemskou in Mei,” gee Riaan die versekering. Maar tot dan sal sy die rustigheid van Rotswand, daar waar die vierde generasie tans aan’t stuur van die boerdery staan, geniet.
OFM Nuus/Elsabé de Jager
