Agriculture
Droogtehulp kry groot skenking op “goedvoel-veiling”─── ROBYN SCHUTTE 05:00 Wed, 06 Mar 2024
Droogtehulp van Burre Burger is onlangs aangewys as die gelukkige wenner van ’n skenking van R100 000.
Burre Burger se organisasie sonder winsbejag, Droogtehulp, is onlangs aangewys as die gelukkige wenner van ’n R100 000-skenking.
Konsortium Merino’s op Victoria-Wes in die Noord-Kaap het op die vooraand van hulle 100ste produksieveiling besluit om die mylpaal te herdenk met ’n goedvoel-veiling ten bate van liefdadigheid. Liefdadigheidsorganisasies kon vooraf aansoek doen om deel te wees van die trekking. Hul name is in ’n hoed gegooi en die wenner se naam is getrek.
Burger vertel dat hy aanvanklik nie aansoek sou gedoen het nie, maar nadat lede van die gemeenskap hom aangemoedig het, het hy tog. “Dit kon nie op ’n beter tyd gekom het nie. Ná die tjekoorhandiging verlede Maandag (26/2) kon ons reeds vir drie boere sê ons kan julle help.”

Burre Burger van Droogtehulp. Foto: Facebook
Die droogtehulporganisasie, wat reeds sewe jaar aktief is, is toegespits op die ondersteuning van boere en hul gesin wat deur die droogte geraak word. Hy sê hulle help ook met mediese uitgawes vir boere, asook met hul kinders se skool- en koshuisgeld, en ander projekte wat die gemeenskap se welstand bevorder.
Die skenking sal ongetwyfeld positief wees vir die gemeenskappe wat deur droogte geteister word, en dit dien as ’n herinnering aan die krag van samewerking en omgee in tye van nood.
OFM/Agri dg
