On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Agriculture

Graan SA vra regering om hulp weens droogte

───   20:54 Wed, 13 Mar 2024

Graan SA vra regering om hulp weens droogte | News Article
Foto: Graan SA

Met finansiële druk wat toeneem as gevolg van verlaagde opbrengste en stygende produksiekoste, doen die Suid-Afrikaanse graanbedryf ’n dringende beroep op die regering vir ondersteuning en bystand om die las op produsente te verlig.

Die versengende temperature en langdurige droë periodes het landbougrond verwoes en beide ontwikkelende en kommersiële produsente ernstig geraak. 

Verskeie produsente het op Graan SA se jaarkongres op NAMPO Park buite Bothaville in die Vrystaat hul misnoeë met die droogtetoestande gedeel.

Die organisasie meen graanprodusente, wat die ruggraat van die land se landbousektor vorm, staar ’n opdraande stryd in die gesig terwyl hulle sukkel om die vernietigende gevolge van die droogte die hoof te bied, met sommige produsente wat minder as 50% van hul gemiddelde reënval in die huidige seisoen ontvang het. 

Graan- en oliesade vorm deel van 70% van alle voedsel en het dus ’n groot vermenigvuldigingseffek oor verskeie industrieë. 

“Die snikhete temperature het gelei tot verlaagde opbrengste, knouende winsmarges en bedreig die lewensvatbaarheid van totale bedrywighede. Baie kommersiële produsente worstel met die vooruitsig van oesmislukkings en finansiële verliese, wat die druk op hul besighede verder vererger,” het Derek Mathews, Graan SA-voorsitter, gesê. 

Hierdie impak is ook meer opmerklik onder ontwikkelende produsente, wat dikwels nie die finansiële hulpbronne en infrastruktuur het om sulke teëspoed te weerstaan nie.

“Die huidige toestande beklemtoon die realiteite van landbouproduksie en die impak van klimaatstoestande op voedselsekerheid en -pryse op Suid-Afrikaners, maar ook die Suider-Afrikaanse gemeenskap. Landbouprodusente is tans besig met finansiers en landboubesighede om te verseker dat hulle produksie in die volgende seisoen kan hervat. Dit is egter duidelik dat ’n aantal produsente in ernstige nood verkeer en ondersteuning sal benodig om die volhoubaarheid van ons voedselproduksiesektor te verseker,” het Tobias Doyer, Graan SA HUB, gesê. 

Met inagneming van hierdie uitdagings doen die Suid-Afrikaanse graanbedryf ’n dringende beroep op die regering vir ondersteuning en bystand. 

“Onmiddellike optrede is nodig om finansiële bystand te verskaf deur middel van ’n landbourampfonds, toegang tot bekostigbare kredietoplossings en bekostigbare inkomsteversekering, wat produsente in staat stel om die krisis te deurstaan en hul bestaan te onderhou.”

OFM Agri

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.