On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Landbank reik uit na graanprodusente

───   12:16 Fri, 15 Mar 2024

Landbank reik uit na graanprodusente | News Article
Sojabone sukkel in die snikhete Noordwes. Foto: Pieter Fleetwood.

Verskillende regeringsentiteite het reeds in gesprek begin tree oor die droogtekwessie en hoe hulle bystand aan graanprodusente kan bied.

Landbank-voorsitter, Rethabile Nkosi, het vandeesweek die Graan SA-kongres buite Bothaville in die Vrystaat lukraak toegespreek na gesprekke met produsente op die grond.

Sy het gesê die regering erken hul tekortkomings en bied hernude toewyding aan produsente om die nodige bystand te verleen.

“Dis uiters moeilik om die uitdagings van die sektor te hoor teenoor hierdie eens groot instelling. Ek sit daar agter en ek reflekteer oor hoe hierdie instelling werklik ’n skaduwee van sy vorige self is en hoe die bank baie van julle [boere] werklik in die steek gelaat het. En daarvoor vra ons om verskoning,” het Nkosi gesê.

Sy het verduidelik dat die Landbank oor die afgelope twee jaar die instelling begin herbou het om sy balansstate te stabiliseer, sy produkte te vernuwe, en te besluit wat moet geprioritiseer word om die ontwikkelingsmandaat terug te bring en te voldoen aan die landbouwetgewing wat van hierdie entiteit vereis word.

“Ons het sedert verlede jaar baie goed saam met Graan SA begin werk. Ek het ook ’n aantal baie belowende vergaderings gehad met die nuwe uitvoerende hoof, Tobias Doyer, wat ’n direkte lyn na my het, gereed om die behoeftes van die graanbedryf te bespreek.”

Mielies verdor op die lande. Foto: Pieter Fleetwood

Nkosi het ook gesê dat die Landbank al sy kommersiële lenings oopgestel het, insluitende termynlenings, langtermynlenings, produksielenings en dat die graanbedryf steeds hul grootste segment bly.

“Op die oomblik is ons in gesprekke met die landboudepartement oor droogteverligtingsmaatreëls. Wanneer daar ’n ramp is, moet die regering na vore tree. Dit is ons werk. En ons weet ons moet optree.”

Sy het verder verwys na die Agro Energy Fund wat verlede jaar van stapel gestuur is om produsente wat weens beurtkrag sukkel te help en dat soortgelyke inisiatiewe nodig is vir die droogte.

Produsente vrees Noordwes se mielie-oes mag dalk die helfte minder wees. Foto: Pieter Fleetwood

“Ongelukkig was die uitvoering van hierdie programme baie stadig. Met hierdie huidige taak besef ons, ons kan nie wag vir die situasie om te versleg nie en ons het reeds begin om betrokke te raak.”

Nkosi het die belangrikheid van die vennootskap met Graan SA beklemtoon en belowe dat die Landbank nie sy rug op die graanindustrie sal draai nie. Sy het die bedryf verseker dat hulle sal aanhou om bystand te lewer.

OFM Agri

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.