On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Nuwe vennootskap fokus op kernkragoplossings vir landbou

───   ROBYN SCHUTTE 11:43 Mon, 25 Mar 2024

Nuwe vennootskap fokus op kernkragoplossings vir landbou | News Article
Saai en C5 Capital het ’n strategiese vennootskap gesluit.

Saai en C5 Capital hoop om deur middel van 'n strategiese venootskap landbouproduktiwiteit in Suid-Afrika te bevorder.

Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) en C5 Capital het ’n strategiese vennootskap gesluit om baanbrekerswerk te verrig met gevorderde kernkragoplossings vir landbou.

“Die projek is op die been gebring deur die behoefte aan ’n volhoubare oplossing vir die invloed van beurtkrag op boere, wat ’n groot uitdaging vir die landbousektor inhou,” sê Francois Rossouw, uitvoerdende hoof van Saai. 

Hy sê beurtkrag is onvoorspelbaar en veroorsaak dikwels groot skade en dat dit nie net landboupraktyke belemmer nie, maar ook skade berokken aan voedselsekerheid. Die vennootskap met C5 Capital is ’n poging om gevorderde kerntegnologie te benut om hierdie probleme die hoof te bied.

Die strategiese vennootskap behels ’n drieledige strategie: die langtermyn-integrasie van gevorderde kernenergie-opwekking in die Suid-Afrikaanse landbou; die innoverende toepassing van kunsmatige intelligensie (KI) in boerderypraktyke; en die onderneming van landbou in die ruimte, asook die gebruik van ruimte-gebaseerde data vir landbou. Hierdie benadering beoog om landbouproduktiwiteit te verbeter, dieregesondheid te bevorder, en voedselsekerheid te verhoog.

Francois Mellet, elektriese ingenieur en besturende direkteur, Stratek Global, dr. Kelvin Kemm, kernfisikus en voorsitter, Stratek Global, Chris Opperman, bedryfsvennoot by C5 Capital vir Afrika en die Midde-Ooste en Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai. Foto verskaf

Wat die invloed op verbruikers betref, beklemtoon Rossouw die belang van ’n volhoubare energiebron vir die platteland. Hy wys daarop dat beurtkrag ’n nadelige invloed het op die inkomste van boere en uiteindelik ook op die voedselsekerheid. Die vennootskap poog dus om hierdie uitdagings aan te spreek en die landbou sektor te versterk.

Saai wil nog projekte loods om verder voedselsekerheid te bevorder. Een van hulle is die AI Farmer-diens, ’n landboutegniese adviesdiens gebou op kunsmatige intelligensie, wat Saai onlangs bekendgestel het. Hierdie diens is ontwerp om boere toegang te gee tot intelligente landboutegniese advies om hulle produksie te verhoog en winsgewendheid te verbeter.

OFM/Agri dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.