On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Vrystaatse boere raadop oor mieliediefstal

───   08:50 Thu, 11 Apr 2024

Vrystaatse boere raadop oor mieliediefstal | News Article
Foto: Getty Images

Daar heers toenemende kommer oor die groot getalle misdadigers wat op geplante lande toeslaan. In sekere gevalle is daar bussies wat groepe van tussen agt en 15 persone aflaai en dan weer kom oplaai.

Volgens Rudi Jansen van Vuuren, veiligheidsverteenwoordiger van Vrystaat Landbou in die Allanridge- en Odendaalsrus-gebied, word daar in sekere gevalle veiligheidswagte oorrompel, boere gedreig en die toerusting gesteel waarmee die wagte moet kommunikeer. In sommige gevalle is van die veiligheidswagte ook by hierdie diefstal betrokke.  

Dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou, vertel dat daar tydens ’n opname gedurende Maart en April bevind is dat 14 boerderye onder mieliediefstal deurgeloop het in onder meer die sentrale gedeelte van die Vrystaat, die mieliedriehoek in die Wes-Vrystaat, asook langs die Lesotho-grens.

“Dit is ook so dat baie van dié miosdaad, waar mielies gesteel word, nie by die polisie gerapporteer of aangemeld word nie, en dat daar ook in gevalle waar daar wel inhegtenisnemings plaasvind, probleme is in terme van bewyslas in die howe. Sulke sake word dan uitgegooi of teruggetrek.”

Sy sê frustrasie loop hoog onder produsente wat nagtelike patrollies moet ry en wagte ten groot koste moet aanstel om hul lande te beveilig.

Buys noem verder dat Vrystaat Landbou behulpsaam sal wees om fasiliterings en intervensiegesprekke te bewerkstellig saam met die Nasionale Vervolgingsgesag en die polisie om hierdie misdaad effektief aan te spreek.

“Op hierdie stadium dui alles daarop dat die mieliediefstal op ’n georganiseerde wyse plaasvind en dat dit as ’n georganiseerde misdaad geklassifiseer kan word.”

OFM Agri/Johan Gunter cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.