On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Agriculture

Onwettig jag met honde teister Suid-Vrystaat

───   13:11 Mon, 22 Apr 2024

Onwettig jag met honde teister Suid-Vrystaat  | News Article
’n Voetspoor van ’n hond wat op die plaas gevind is. Foto verskaf

Boere in die Suid-Vrystaat word al meer geteiken deur onwettige jagters wat honde gebruik om skape te steel.

Bertie Grobler, voorsitter van die Springfontein-boerevereniging, sê onlangs is 30 skape erg beseer en tien gesteel op die plaas Stapelhurst.

“Onwettige jagters wat jag met hul honde en strikke stel by grensdrade saai verwoesting in die distrik. Dit was ’n behoorlike slagveld op Staplehurst, dis hartseer om te sien as 30 skape gesaai lê oor die veld.” Al die diere wat so erg verniel was, sommige dragtige ooie, moes van kant gemaak word.

 ’n Skaap wat deur die honde aangeval is. Foto: verskaf

Grobler sê in sommige gevalle jag die honde alleen omdat hulle nie op hok gehou word nie. “As ’n hond eers bloed geruik het, gaan hy altyd terug vir meer.”

Vangstrikke wat gestel word deur onwettige jagters by grensdrade saai verwoesting onder klein diertjies. “Daar is omtrent geen dassie, haas of meerkat te sien in die velde nie. Selfs muise is skaars. Daar word skilpaaie ook gevang vir die kospotte.”

Werkloosheid en armoede in plattelandse gemeenskap kan gesien word as ’n rede vir die onwettige jagters. “Mense is honger en moet eet om te oorleef. Hongerte gee niemand die reg om onwettig te jag nie. Daar kan eerder voorsiening gemaak word vir kospakkies of sopkombuise op die dorp,” sê Grobler.

Loraine Earle, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n klag van veediefstal word ondersoek.

Springfontein se boere doen ’n beroep op die polisie, Dierebeskermingsvereniging, natuurbewaring en die Department van Gesondheid om saam te werk om die uitdagende omstandighede onder beheer te kry.

OFM Agri/Serijke Grobler dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.